R14 miljoen vir Chinese Girl

Tretchikoff se “Chinese Girl”

Vladimir Tretchikoff se skildery, Chinese Girl, waarvan talle afdrukke al gemaak is en maklik uitgeken word, het Woensdag bykans ₤1 miljoen (sowat R14 miljoen) by ‘n veiling in Londen gehaal.

Laurence Graff, die voorsitter van Graff Diamonds International, het die skildery vir ₤982 050 aangeskaf, ‘n rekord vir die Suid-Afrikaanse kunstenaar. Graff, ‘n Britse juwelier, beplan om die ikoniese skildery in die publiek saam met die res van sy versameling van Suid-Afrikaanse kuns by die Delaire Graff Estate in Stellenbosch buite Kaapstad uit te stal. “Die skildery gaan terug huis toe, Kaapstad toe, waar Tretchikoff dit geskilder het. Dit is eintlik wonderlik,” het Julian Roup, woordvoerder vir Bonhams-afslaers, gesê.

Chinese Girl is ‘n eenvoudige houtskooltekening op ‘n bruin skilderdoek wat deur die groen-blou gesig, aanloklike swart hare en helder goue tuniek verhelder word. Volgens Bonhams is die skildery een van die skilderye in die wêreld waarvan daar die meeste afdrukke gemaak is. Tretchikoff het self aangevoer dat hy sowat ‘n halfmiljoen afdrukke in groot formaat teen die einde van sy loopbaan verkoop het.

Woensdag se verkoopprys, wat ‘n koperspremie insluit, bring nuwe erkenning vir dié kunstenaar, wat voor sy afsterwe in 2006 in die ouderdom van 92 gereeld as “kitsch” beskryf is.

Tretchikoff is ‘n Russiese emigrant wat in 1946 in Suid-Afrika kom woon het. Hy het die Chinese Girl in 1952 in Kaapstad geskilder. Sy model was Monika Sing-Lee (toe 17 jaar oud). Hy het Sing-Lee opgemerk terwyl sy by haar oom se wassery in Seepunt, Kaapstad, gewerk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.