‘n Personeellid wat by die Sandton Holiday Inn werk het Dinsdag in verband met die roof in die Alexandra hof verskyn nadat sowat vyfduisend euros in sy besit gevind is, berig EWN. Die polisie is egter steeds op soek na die hoofverdagte, wat glo die hotel se hoof van sekuriteit was.
Dr. Farid Alshabaar het verduidelik hoe hy Saterdagaand van aandete na sy hotelkamer teruggekeer het en ontdek het dat sy kluis leeg is. “Ek het my kluis oopgemaak en gesien dat sowat €180,000 en R300,000 gesteel is. ‘n Rolex-horlosie is ook gesteel, maar ‘n kilogram goud is agtergelaat. Die bankier sê hy het die geld gebruik om in goud te spekuleer en by casino’s te dobbel. Alshabaar, wat glo verskeie koninklike gesinne in Saudi Arabië verteenwoordig, het gesê die hoof van sekuriteit het glo die personeellid se toegangskaart gebruik om by sy kamer in te breek. Volgens Alshabaar wou die bestuur van die hotel hom keer om die polisie te ontbied. “Hulle het gesê die polisie sou nie kom nie. Hulle het ook gesê jy moet geld betaal voordat die polisie sou kom en dat hulle nie met mens sou saamwerk nie. Hulle het bygevoeg ek kan die polisie eers Maandag kontak,” het hy gesê.
Die Holiday Inn sê egter die polisie is onmiddellik in kennis gestel en dat hulle met die owerhede saamwerk. Die hotel wou egter nie bevestig of werknemers van die hotel in die roof betrokke was nie.