R23 miljoen ná skoolseun seerkry

Die LUR vir onderwys in Gauteng is deur die hooggeregshof in Pretoria beveel om miljoene rand skadevergoeding aan Christan Rabie te betaal, het The Star Donderdag berig.

Rabie (23) het verskeie beserings, waaronder ʼn skedelbreuk, opgedoen toe hy 10 jaar gelede tydens ʼn skoolspeletjie seergekry het.

Piet Koen, ʼn regter van KwaZulu-Natal, is ingeroep om te beslis hoeveel skadevergoeding aan Rabie toegeken moet word.

Rabie is R20,2 miljoen toegeken vir verlies van inkomste en om inkomste te verdien; R800 000 vir algemene skade; R787 386 vir toekomstige mediese uitgawes en ʼn ekstra bedrag van R1,2 miljoen wat dien as 7.5% beskerming van die toekenning.

Die regter het beveel dat ʼn trust gestig moet word om die geld te administreer.

Rabie, die seun van regter Pierre Rabie van die Pretoriase hooggeregshof, is destyds beseer toe ouer seuns jonger seuns deur die lug teen krieketnette geslinger het. Die 13-jarige Rabie is tydens ʼn pouse op 31 Julie 2003 ook geslinger en het op sy rug beland.

Die hof het vroeër bevind die departement van onderwys was aanspreeklik vir die skade.

Die departement het in 2008 appèl aangeteken teen die uitspraak dat hulle 100% verantwoordelik is. Die hof het egter vyf jaar gelede dié appèlaansoek afgekeur en gesê Rabie het nie die volwassenheid gehad om te besef hy kon beseer word nie.

Rabie is nou ʼn regstudent aan die Universiteit van Suid-Afrika.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hendrik ·

en wat van die ouer studente wat hom geslinger het??? ‘n Rapsie op kneukels vir “ontgroening”…

JAVR ·

Net die regter se seun word vergoed? Ja hulle moet vergoed word maar almal!

Johan ·

Ongelukkig gaan hy net bietjie meer as die helfte van die geld sien. Regsspan kry 24%. BTW 14%.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.