R25 miljoen-skadevergoeding aan 11-jarige

Argieffoto

Kerri Mel O’Loughlin, ‘n 11-jarige dogter wat breinskade opgedoen het na ‘n reeks mislukte operasies, is skadevergoeding van R25 miljoen toegeken, het die Sunday Times berig.

Die Mediese Beskermingsvereniging (MPS), ‘n organisasie wat professionele vrywaring teen aanspreeklikheid verskaf, het ingestem om die skikkingsbedrag te betaal.

O’Loughlin het breinskade opgedoen ná ‘n reeks operasies wat deur dr. Minette du Preez, neurosjirurg, by die Life Bay View privaathospitaal in Mosselbaai uitgevoer is.

O’Loughlin, oorspronklik van Ierland, is met bloeding op die brein gebore. Toe sy vyf jaar oud was, het sy ‘n operasie ondergaan waar ‘n dreineringspypie in haar brein geplaas is om oortollige serebrospinale vog en water te dreineer. In 2009, toe haar familie na Suid-Afrika verhuis het, het sy van hoofpyn begin kla. Du Preez het ‘n aanbeveling aan haar ouers gemaak dat sy ‘n nuwe dreineringspypie benodig. Die operasie was onsuksesvol. ‘n Verdere drie operasies is uitgevoer in ‘n poging om die pypie in die korrekte posisie te plaas. Daar is later bevind dat die eerste twee pypies breinskade veroorsaak het. Sy is in April 2010 uit die hospitaal ontslaan.

Sy het gevolglik ‘n aantal kognitiewe-, geheue-, spraak-, visuele- en bewegingsprobleme ondervind.

Kerri se pa, Declan, het ‘n skadevergoedingseis teen Du Preez en die MPS ingestel. Die saak is in Augustus 2012 buite die hof geskik. Declan het aan die Sunday Times gesê sy dogter sal in die toekoms blind wees. “Ek sal alles gee, en alles wat ek besit, om weer terug te gaan na 25 Maart 2010, voordat hierdie dokter ons lewens kom verander het,” het hy glo gesê.

Kerri se ma is in Augustus 2011 oorlede aan ‘n breingewas.
-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.