‘R29 miljoen ingesamel op ANC-gholfdag’

anc-logo-320x205Leiers van die ANC in Gauteng het meer as R29 miljoen ingesamel vir die party se verkiesingsveldtog tydens ʼn enkele gholfdag, berig die City Press.

Volgens die berig was daar ʼn gala-ete en veiling by die Killarney-gholfbaan in Johannesburg gehou en kon diegene wat die dag bygewoon het op eksklusiewe wyne en skilderye deur Rob Kearney bie. ʼn Skildery van Chris Hani het glo vir R60 000 verkoop terwyl skilderye van oudpresident Nelson Mandela vir onderskeidelik R40 000 en R55 000 verkoop het. ʼn Skildery van ʼn glimlaggende president Jacob Zuma het glo vir R100 000 verkoop. ʼn Stel van twee bottels Nelson Mandela-wyn, wat deur ʼn wingerd in Stellenbosch geproduseer is vir die herdenking van Mandela se 95ste verjaardag, is vir R151 000 verkoop. Paul Mashatile, voorsitter van die ANC in Gauteng, het glo aan die einde van die aand aan gaste gesê dat hulle R26 miljoen ingesamel het. City Press sê volgens hulle inligting is daar R29 miljoen ingesamel. Mashatile het gaste aangeraai om in volgende jaar se verkiesing vir die regerende party te stem. “Ek wil nie hê mense moet sê ons sal nie vir die ANC stem omdat hulle nie vir ons besigheid gee nie. Sê vir ons as julle besigheid soek. Die enigste ding is dat as ons vir julle besigheid gee moet julle kan lewer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.