Ricardo Cerezo van Amerika wat ‘n paar ou loterykaartjies uit ‘n koekieblik gehaal het, was geskok toe hy uitvind een van hulle is $4.85 miljoen werd.
Cerezo en sy vrou sou uit hul huis gesit word nadat hulle hul huis drie maande vantevore aan die bank moes teruggee, skaars ‘n jaar nadat sy 14-jarige dogter weens ‘n skielike siekte gesterf het. Sy vrou het vir hom gesê hy moet die 11 loterykaartjies na die 7 Eleven-winkel toe vat om uit te vind of hulle dalk iets gewen het. Die masjien in die winkel het aangedui daar is ‘n uitstaande betaling op een van die kaartjies, maar Cerezo het aanvanklik gedink dit is dalk net ‘n paar honderd dollar. “Ek kan nie glo ek het $4,85 miljoen (sowat R43 miljoen) al vir drie maande lank in ‘n koekieblik nie!” het hy gesê. Hy het Woensdag sy seremoniële tjek in Illionois, Amerika ontvang. “Ek is sprakeloos. Dit is ongelooflik!”
Beamptes van die lotery het hom gevra of hy enige raad het vir ander spelers. “Gaan soek jou ou kaartjies!” het hy skertsend gesê.
Maroela Media het vroeër vandag berig een gelukkige wenner beskik oor die wenkaartjie vir ‘n Powerball-boerpot van $590 miljoen. Klik hier om meer te lees.