R50k-beloning vir vermiste KZN-sakeman

Bruce Galloway

‘n Foto van die huis waarvandaan Galloway vermoedelik ontvoer is, volg onderaan die berig. Bruce Galloway (59) van Kloof in KwaZulu-Natal word steeds vermis nadat hy Dinsdag omstreeks 04:00 voor sy huis ontvoer is.

Galloway was glo ʼn aandeelhouer in drie Spar-supermarkte waarvan een in Inanda en twee in die Transkei gebaseer is. Volgens die Farmer’s Weekly het Galloway ook aan die hoof gestaan van die Bruce Galloway Group, ʼn groot suikerrietplantasie-maatskappy naby KwaDukuza.

Galloway was onderweg na ʼn vergadering in die Oos-Kaap toe hy vermoedelik ontvoer is.

Volgens IOL het Galloway se seun, Wayne, gesê sy ma het omstreeks 07:00 wakker geword toe die honde begin blaf het. “My ma was in die huis en toe sy buite gaan ondersoek instel het, het my pa se motor nog in die oprit gestaan,” het Wayne gesê. Die motor het verlate gestaan in die 20m-oprit. Wayne het gesê sy pa het gereeld vroeg in die oggend na vergaderings vertrek, maar dat die dae nooit spesifieke dae was nie.

Brad Nathanson, privaatspeurder, het aan Maroela Media bevestig Galloway se beursie is in die motor opgespoor en sy bril en selfoon is in die bos langs die oprit opgespoor. Bruce sê egter daar is ʼn paar vrae wat onbeantwoord bly. “Indien Galloway ontvoer is, wie sou weet dat hy sy huis om 03:00 sou verlaat? Waarom is sy motor in die oprit agtergelaat om almal in kennis te stel dat hy ontvoer is? Wat wil die ontvoerders hê – hulle het nog nie ʼn losprys geëis nie?”

“Alles wat gebruik kan word om Galloway op te spoor, is deur die vermeende ontvoerders agter gelaat insluitend sy selfoon en iPad. Daar was nog geen beweging op sy bankrekeninge nie. Dit is asof hy deur buiteruimtelike wesens ontvoer is,” het Nathanson gesê.

Rob Phillipson, besturende direkteur van Spar in KwaZulu-Natal het aan Maroela Media gesê hulle bied ʼn beloning van R25 000 aan vir enigiemand met meer inligting wat daartoe kan lei dat Galloway opgespoor kan word. Phillipson het bevestig dat die Galloway-familie ook R25 000 as beloning aanbied.

Die huis waarvandaan Galloway vermoedelik ontvoer is Foto: Google Earth

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.