R72 miljoen borg vir vermeende ontvoerder

Die Castro-broers. Ariel (middel) is van ontvoering en verkragting aangekla, maar sy broers Pedro (links) en Onil (regs) is nie aangekla nie.

Die man wat daarvan verdink word dat hy drie vroue ʼn dekade lank in Cleveland, Ohio in Amerika aangehou het, het Donderdag in die hof verskyn.

Ariel Castro (52) word van ontvoering en verkragting aangekla, berig BBC. Borgtog van $2 miljoen (ongeveer R18 miljoen) vir elk van die ontvoeringsklagtes, dus in totaal $8 miljoen (ongeveer R72 miljoen) is toegestaan. Hy het nie gepleit nie.

Amanda Berry (27), Gina DeJesus (23) en Michelle Knight (32) is op verskillende tye ontvoer en vir ʼn dekade lank in ʼn huis in ʼn voorstad aangehou. Berry het Maandag ontsnap en hulp ontbied.

Die polisie het twee van Castro se broers aangehou, maar later gesê dit blyk dat hulle nie in die misdaad betrokke was nie. Castro is die eienaar van die huis.

Die polisie sê die vroue kan slegs twee geleenthede onthou waar hulle, tydens aanhouding, buite die huis toegelaat is, en dit was telkens slegs in die motorhuis.

“Die vroue is nie in dieselfde kamer aangehou nie, maar hulle het van mekaar geweet en mekaar geken,” het Ed Tomba, adjunk polisiehoof, gesê.

Berry het Maandag saam met haar sesjarige dogter, Jocelyn, wat in aanhouding gebore is, ontsnap. Bronne het aan die BBC gesê een van die vroue is gedwing om Berry te help om geboorte te skenk en is met die dood gedreig indien die kind nie oorleef nie.

Owerhede het Woensdag in ʼn perskonferensie gesê Castro gaan van vier aanklagte van ontvoering aangekla word.

Castro staar ook drie aanklagte van verkragting, een teen elke vrou, in die gesig. Volgens die polisie is meer as 200 stukke bewyse by die huis ingesamel.

Verdere aanklagte kan moontlik bygevoeg word.

Volgens die polisie gee Castro sy samewerking en het hy sy reg tot stilswye van die hand gewys. Hy het ook ingestem dat ʼn vaderskaptoets gedoen mag word om Jocelyn se vaderskap te bepaal.

Knight is steeds in die hospitaal. DeJesus en Berry is reeds ontslaan.

Berry het in 2003, toe sy 16 jaar oud was, verdwyn. ʼn Buurman het haar hulpkrete gehoor toe haar vermeende ontvoerder nie tuis was nie en ondersoek ingestel. Hulle het die polisie ontbied wat op hul beurt DeJesus en Knight in die huis aangetref het. DeJesus is in 2004 as 14-jarige ontvoer en Knight is in 2002, toe sy 20 jaar oud was, ontvoer. Klik hier om meer te lees.

Castro het glo uit die buurt gevlug, maar is by ʼn nabygeleë McDonald’s Restaurant aangekeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.