R8 miljoen om niks te doen nie

Die Limpopo-regering het glo meer as R8 miljoen aan maatskappye uitbetaal wat niks gedoen het nie.

Dirk Strydom, die ouditeur-generaal van die provinsie, het in ‘n verslag bekend gemaak dat die departement van paaie en vervoer meer as R5 miljoen aan sewe maatskappye betaal het om slaggate reg te maak wat glad nie bestaan het nie, berig SowetanLIVE. Volgens Strydom het Ntau Letebele, hoof van die departement, in sy amp as rekeningkundige beampte, nie seker gemaak dat die diensvlakooreenkomste met diensverskaffers geteken word nie. Die maatskappye is betaal sonder dat enige diens verskaf is.

In die Mopani distriksmunisipaliteit het ‘n verslag van die departement van waterwese bekend gemaak dat die munisipaliteit meer as R3 miljoen aan drie maatskappye betaal het wat nie hul ooreenkoms nagekom het nie. Die maatskappye het tenders ontvang om boorgate in verskeie dorpies te dril. Luidens die verslag kon die munisipaliteit nie bewys lewer dat die boorgate bestaan nie.

Die Forum vir Limpopo Entrepreneurs, ‘n organisasie wat ontevrede sakemanne verteenwoordig wat nie kontrakte by die provinsiale regering ontvang nie, het ‘n kriminele saak by die polisie aanhangig gemaak. Siviko Mabunda, woordvoerder van die Forum sê hulle wil hê die saak moet ondersoek word. “Ons wil hê die polisie moet dié misbruik van publieke fondse deur beamptes wat vir dienste betaal het wat nooit gelewer is nie, ondersoek,” het Mabunda Maandag gesê.

Die polisie in Giyani het Maandag bevestig dat die munisipaliteit ondersoek word. Neil Shikwambana, woordvoerder vir die Mopani distriksmunisipaliteit, het nie op vrae reageer wat per e-pos aan hom gestuur is nie. Joshua Kwapa, woordvoerder vir die provinsiale departement van paaie en vervoer, het gesê die bewerings dat tenders onregmatig uitgedeel is, nie water dra nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.