Putco, die busmaatskappy, sal volgende week voor die Gautengse wetgewer se Portefeuljekomitee vir Vervoer moet verskyn, om vrae te beantwoord oor ongelukke waarin sy voertuie betrokke is.
In die mees onlangse voorval is altesaam 19 mense dood en 52 beseer toe ‘n Putco-bus Maandagoggend van ‘n brug op die R95-pad, naby Meyerton, afgery en in ‘n stormwatersloot beland het.
Volgens RSG beweer van die oorlewendes dat die busbestuurder gejaag het, dat die bus oorlaai én onpadwaardig was. Refilwe Mogale, die waarnemende voorsitter van die komitee, het gesê Putco word deur die regering gesubsidieer en daar is ‘n verwagting dat hy goeie diens moet lewer.