Twee radiojoggies van Ukhozi FM is vir ʼn maand geskors nadat hulle ʼn omstrede liedjie gespeel het oor die geskorste ANC-jeugligaleier, Julius Malema.
The Witness berig dat die twee aanbieders glo Saterdag tydens die musiekprogram, Utulagu, die liedjie uMalema deur die groep Izingane Zoma gespeel het. Die aanbieders is Donderdag geskors. ʼn Woordvoerder van die SAUK, Kaizer Kganyago, sê die radiostasie het besluit om Khathide Ngobe en Ngizwe Mchunu te skors nadat hulle die liedjie gespeel het wat nie op die speellys was nie. Hy sê dit gaan nie oor die lied nie maar eerder oor die feit dat die aanbieders nie die reëls van die stasie nagekom het nie. Die lied beskuldig Malema glo daarvan dat hy buite beheer is en oor die feit dat hy die ANC-leierskap gekritiseer het. Die lied is onlangs aan radiostasies gestuur en die groep se album is na verwagting reeds in musiekwinkels beskikbaar. Die ANC-jeugliga het vroeër gesê hy sal stappe neem teen die groep indien die lied vrygestel word.