Radioprogram ná fopoproep gekanselleer

Prins William en Kate Middleton buite die hospitaal net nadat sy Donderdag ontslaan is.

Die Australiese radioprogram 2Day FM gaan gekanselleer word nadat ʼn verpleegster van Brittanje ná ʼn fopoproep selfmoord gepleeg het.

Southern Cross Austereo (SCA) het besluit om die program te kanselleer en alle fopoproepe in die maatskappy op te skort. Omroepers Mel Greig en Michael Christian is reeds onbepaald geskors.

Die twee omroepers het hulself as die koningin van Engeland en prins Charles voorgedoen toe prins William se vrou, Kate Middleton, in die King Edward VII-hospitaal opgeneem is. Kate, die hertogin van Cambridge, het ʼn erge vorm van oggendnaarheid ontwikkel en het vier dae in die hospitaal spandeer. Die twee omroepers het die hospitaal geskakel en ʼn verpleegster het sensitiewe inligting aan hulle bekendgemaak. Die verpleegster, Jacintha Saldanha, het net na die oproep selfmoord gepleeg.

Mel Greig en Michael Christian Foto: AFP, news.com.au

“SCA en die aanbieders van die radioprogram het besluit dat hulle tot verdere kennisgewing nie weer sal uitsaai nie,” het die maatskappy in ʼn verklaring gesê. “Ons glo nie die fopoproep het enige betrokke wette, regulasies of voorwaardes oortree nie, maar ons is besig met ʼn omvattende hersiening van die maatskappy se beleid, bepalings en voorwaardes.”

Greig en Christian het tydens ʼn onderhoud met Channel 9 gehuil en erken dat die “eenvoudige, skadelose oproep” ʼn gesamentlike idee van hul produksiespan was, berig news.com.au. “Die span het voor die tyd saam gesit en met die idee vorendag gekom. Ons het verwag ons gaan bel, en iemand gaan binne 30 sekondes die telefoon neersit. Dit was só onskuldig,” het Christian gesê. “Ons het gedink ʼn 100 mense voor ons het dit al probeer. Ons het gedink dit is só ʼn lawwe idee, en ons aksente is pateties en ons het nie vir ʼn oomblik gedink ons sal ooit met Kate, of enigiemand by die hospitaal kan praat nie. Ons het verwag hulle gaan die foon neersit,” het Greig bygevoeg.

Greig het gesê die oproep wat sy ontvang het oor die afsterwe van Saldanha was die slegste oomblik van haar lewe. “Ek probeer dit nog verwerk,” het sy gesê. “Hierdie fopoproepe word elke dag gemaak, op elke radiostasie, in elke land regoor die wêreld. Niemand sou ooit kon voorsien dat so iets gaan gebeur nie.”

Die verpleegster, Jacintha Saldanha

“Dit was nooit ons bedoeling dat iemand sleg moes dink van die verpleegsters nie. Ons aksente was só sleg dat ons gedink het die mense sal vir ons lag,” het Christian bygevoeg.

The Today Network, SCA se radiogedeelte, is Australië se top FM-radionetwerk met net meer as 3.5 miljoen weeklikse luisteraars en meer as 1.1 miljoen aanlyngebruikers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.