Radiostasie beboet vir uitlating

Die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (UKKSA) het Kaya FM R5 000 beboet nadat ʼn omroeper glo ʼn rassistiese term vir Indiërs gebruik het.

Bob Mabena, die omroeper, het die woord tydens die oggendprogram op 22 Februarie gebruik. Mabena het aan die nuusleser, Mpho Raphata, gevra waarmee sy besig is. “Ek skryf iets vir Kuli,” het sy geantwoord, met verwysing na ʼn mede-aanbieder, Kuli Roberts. Mabena het toe gevra: “Skryf jy vir ʼn Kuli?”

Mondre Bremner, ʼn luisteraar, het daarna ʼn klag by UKKSA aanhangig gemaak en gesê die woord is ʼn neerhalende woord om na mense van Indiese afkoms te verwys en dat die aanbieders ʼn bespotting van haar kultuur maak.

Die kommissie het Maandag in ʼn verklaring gesê dat die gebruik van die woord nie neerhalend bedoel was nie, maar wel kinders se mening kon beïnvloed.

UKKSA het bevind dat Mabena se gebruik van die woord nie op haatspraak neergekom het nie.

“In hierdie geval het die uitlating gesinspeel op die naam Kuli, en dit het die ‘angel’ uit die woord verwyder. Dit het ook ons bevinding of die uitlating haatspraak bevorder, verminder,” het die kommissie gesê.

“Die gebruik van die woord is egter beledigend, en kragtens die uitsaaigedragskode se klousule vir kinders, moes dit in rekening gehou word. Baie kinders het na die oggendprogram geluister en kon dit verkeerd verstaan het, wat wél haatspraak sou bevorder,” het UKKSA bevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.