Radiostasie reël ʼn lewer vir tienermeisie

Bridgette, twee weke na haar leweroorplanting.

Die radiostasie JacarandaFM se Good Morning Angels het vir een van hul jong luisteraars, Bridgette dos Santos (16) van Pretoria, gehelp om ʼn leweroorplanting te kry.

Dit was ʼn langdurige en duur proses maar ʼn jaar en R900 000 later, het Bridgette haar leweroorplanting gekry, het Altus Venables van JacarandaFM Maandag gesê.

“Die storie het verlede jaar op 17 Augustus begin toe Good Morning Angels hul luisteraars aan Bridgette voorgestel het. Sy het dringend ʼn leweroorplanting benodig wat sowat R1 miljoen sou kos,” het Venables gesê.

Bridgette, haar maats en familie het verskeie projekte van stapel gestuur in ʼn poging in geld in te samel, maar kon nie daarin slaag om al die geld te bekom nie.

Die Good Morning Angels-span het op 21 September ʼn geldinsamelingsveldtog oor die luggolwe gehou en die luisteraars het hul hande in hul sakke gesteek en in ʼn uur sowat R350 000 geskenk.

“Toe kom die laaste twee oproepe van luisteraars wat anoniem wou bly. Die eerste persoon het R100 000 geskenk en die tweede persoon R600 000. Almal in die ateljee was oorstelp van emosies en die trane het behoorlik gerol,” het Venables bygevoeg.

Nadat die fondse beskikbaar was, was daar wel nog die uitdaging om ʼn geskikte lewer te bekom. Na ʼn lang wag het Bridgette uiteindelik op 1 Oktober vanjaar die goeie nuus gekry dat ʼn lewer beskikbaar is. Sy het ʼn suksesvolle operasie ondergaan en was verlede week in die ateljee om die luisteraars en Good Morning Angels te bedank vir al hul hulp.

Trane rol toe Bridgette en die Good Morning Angels verlede jaar hoor hulle het genoeg geld ingesamel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.