Ramokgopa vra regsmening oor sperdatum

Dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit (Foto: Ntswe Mokoen/GCIS)

Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, win regsadvies in oor die sperdatum na aanleiding van ʼn onlangse hofbevinding dat die regering se vele mislukkings wat aanleiding gee tot beurtkrag wel inbreuk maak op Suid-Afrikaners se basiese regte in die Grondwet.

ʼn Volbank regters in die hooggeregshof in Pretoria het op 2 Desember ʼn spertyd van einde Januarie ingestel vir die staat om stappe te doen wat verseker dat noodsaaklike instellings soos openbare skole, hospitale en polisiestasies kwytgeskeld word van beurtkrag.

Die hof het ook gelas “dat alle redelike stappe nie later nie as 31 Januarie 2024” gedoen moet word, hetsy in samewerking met Eskom en ander staatsinstellings of nie, om te verseker dat daar genoeg opwekkingskapasiteit is om te verhoed dat hierdie dienste aan beurtkrag onderwerp word.

Ramokgopa het Sondag gesê hy neem kennis van die uitspraak, maar is onseker oor die sperdatum.

“Ons wil uitklaring kry oor wat teen 31 Januarie gedoen moet word. Wil die hof hê ons moet ʼn opgestelde plan voorlê oor hoe ons die kwessie gaan pak, of wil hy hê –  kom 1 Februarie 2024 – dat daar geen beurtkrag by hierdie instansies is nie?” het Ramokgopa gesê.

“Daar is regsimplikasies. Ons sal regsadvies hieroor kry om te bepaal wat die beste benadering is.”

Hy sê die regering aanvaar dat beurtkrag ʼn “nadelige impak” het op sy vermoë om sy grondwetlike verpligtinge na te kom.

“Ons het nie weggeskram [om te sê] dat beurtkrag in wese mense se grondwetlike regte ondermyn nie. Dit aanvaar ons wel,” sê Ramokgopa.

Die hofuitspraak het deel gevorm van ʼn veelpartyaansoek wat onder meer die DA, UDM, IVP, Action SA en Numsa ingesluit het.

Ramokgopa het toegegee dat dié partye die hof uit opregte desperaatheid genader het.

“Hulle wil werklik hê die hof moet tot die kwessie toetree en beslis dat die staat daardie verpligting het en gedwing moet word om [daardie verpligting] na te kom,” sê Ramokgopa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

tweeling ·

Jy het nie nodig om regs advies in te win om te kan lees nie. Die uitspraak/opdrag is sorg dat hospitale, polisie stasies en skole nie krag onderbrekings het nie. Tipiese vertragings taktiek wat julle altyd aangaan wanneer julle in die moeilikheid is.

Oosieoos ·

Absolute onbevoegdheid en nalatigheid van cANCer en hulle moet verantawoording doen op die mees strafregtelike aanklagte moontlik

Ore ·

@Tweeling, stem saam. Hy is nou kamtig verward maar as leek verstaan ek ook dat geen beurtkrag by die instellings toegepas mag word nie. Hy wil nou weer ‘n plan opstel en voorlê en ons almal weet dis waar dit gaan bly. Die ANC is kenners indien dit by probleme kom maar oplossings/planne kon nog nooit deurgevoer word nie. Regte nar as jy my vra

Witbaard ·

Hy droom. Hy sal mos in elk geval nie beurtkrag teen 1 Feb oplos nie

Johann ·

Nee nee. At best speel hy vir tyd sodat hy en sy kamerade uit een mond kan Lieg…en skielik die verlossers van die people is om te doen wat hulle gedwing word om te doen.

Manie ·

Korrek Ramokgopa, jou regering behoort hulle te skaam dat hulle met alles in die hof gedwing moet word, selfs eenvoudige dienslewering.

Anel ·

En ons arme betalende burgers moet maar net betaal. Ons kry nie krag nie, maar ons gaan op ‘n manier die verhoging moet absorbeer. Hoe meer ons betaal hoe minder krag is beskikbaar. Hoekom? Want die kaders vreet ons geld!! Te veel werkers wat niks doen en buitensporige salarisse kry, om die wonderlike minister nie weg te gooi nie, maar ons het nie krag nie. Sorg ook dat hierdie staatsinstansies se rekeninge betaal word. Gee korting aan skole wie se rekenings op datum is. Ouers dra die las!!!!

Casper ·

Hoeveel van die instansies wat vrygestel moet word van beurtkrag betaal hulle maandelikse rekeninge,maar ek en miljoene ander mense wat elke maand betaal gaan gebuk onder beurtkrag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.