Ramphele en Agang vergader in JHB

Mamphele Ramphele spreek die leiers van Agang SA toe Foto: @agangsa, Twitter

Mamphele Ramphele spreek die leiers van Agang SA toe Foto: @agangsa, Twitter

Mamphela Ramphele en beamptes van Agang SA het Donderdag in Johannesburg “privaat vergader”.

Sekuriteitswagte het die deur van Agang se kantoor in Braamfontein bewaak en verslaggewers is aangesê dat Ramphele nie vir onderhoude beskikbaar sou wees nie.

Agang SA se amptelike Twitter-rekening het foto’s van Ramphele, geklee in ʼn groen T-hemp van die party, opgelaai. “Ons lede sing ‘Ramphele my president’ terwyl ons leier instap,” is by die foto geskryf.

“Ek respekteer julle en is lief vir julle almal,” word Ramphele in ʼn ander twiet aangehaal. “Hierdie is in belang van die land.”

Helen Zille, leier van die Demokratiese Alliansie, het Dinsdag aangekondig dat Ramphele vanjaar die DA se presidensiële kandidaat sal wees in die algemene verkiesing.

Agang beplan glo om ʼn ander leier aan te stel om hulle in die verkiesing te verteenwoordig. Die DA het egter aangedui dat die twee partye gaan saamsmelt.

Volgens Agang se twiets wat Donderdag gepubliseer is, het Ramphele dit benadruk dat sy passievol bly oor die party en die droom vir ʼn beter Suid-Afrika.

Sommige van Ramphele se ondersteuners het hul misnoeë uitgespreek oor haar skuif om die DA se presidensiële kandidaat te word. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eben ·

As Dr Mamphela Ramphele haar onttrek uit Agang, bestaan die party nog? Ek bedoel sy is die dryfveer agter alles … sy is die een wat geld daarstel ….. watter sê/houvas kan die ander op haar hê? As sy die Agang ontbind ….

Vra maar net …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.