Ramphele en Zille verduidelik wat gebeur het

Ramphele en Zille tydens Dinsdag se aankondiging dat Ramphele die DA se presidensiële kandidaat is vir die verkiesing. Foto: ARod Macleod/Twitter

Ramphele en Zille tydens Dinsdag se aankondiging dat Ramphele die DA se presidensiële kandidaat is vir die verkiesing. Foto: ARod Macleod/Twitter

Dr. Mamphela Ramphele, leier van Agang SA, en Helen Zille, het kort na mekaar afsonderlike nuuskonferensies gehou om te verduidelik waarom hul kortstondige politieke huwelik so gou op die rotse beland het. Ramphele was eerste aan die beurt.

“Sommige mense is nog in die ou rassepolitiek vasgevang, en is nog nie gereed vir ‘n gesprek om politieke grense oor te steek nie,” het dr. Mamphlea Ramphele tydens ‘n nuuskonferensie gesê om haar bolmakiesieslaan met die DA te verduidelik.

Ramphele het verskoning gevra vir die ongelukkigheid wat sy veroorsaak het met die besluit om nie as presidentskandidaat vir die DA te staan nie, maar sê sy glo sy het die regte besluit geneem.

Sy sê sy het geglo die bevolking is reg om uit die rasgebaseerde politiek te beweeg, maar dat verlede week se gebeure gewys het dat baie mense nog nie gereed is daarvoor nie. “Daar is miljoene mense wat nie vir die DA sal stem nie.”

Ramphele sê sy het ook in die proses geleer om behoorlik met haar ondersteuners te konsulteer voor sy besluite neem. Sy het die aanvanklike besluit as ‘n oorhaastige besluit van haarself en die DA bestempel. Ondersteuners van beide partye was ontevrede, het sy gesê, en bygevoeg dat sy nie gaan betrokke raak in ‘n moddergooiery oor wat waar verkeerd geloop het nie.

Zille, wat Sondag vir Ramphele beskryf het as iemand wat nie vertrou kan word nie, het tydens haar nuuskonferensie gesê die gebeure het die besef gebring dat hulle nie met ‘n rein gewete kan sê Ramphele behoort die president van die land te wees nie.

Zille het bevestig dat hul persoonlike vriendskap ‘n ernstige knou weg het. Sy het daarop aangedring dat al die swart ampsdraers in haar party tot daardie ampte verkies is.

Die DA se parlementêre leier, Lindiwe Mazibulu, het tydens die nuuskonferensie gesê elke keer wat iemand na vore tree om nie-rassige politiek te bepleit, verg dit ‘n reeks ingewikkelde stappe. Dit is egter moontlik ongeag die apartheidsverlede.

Zille het gesê sy meen die gebeure het die doodsklok vir Agang gelui. Sy hou vol dat die DA die enigste lewensvatbare alternatief vir die ANC is, en dat die tyd nou min rak om die grondwet te beskerm teen die aanslag van die ANC.

Die leier van die Vryheidsfront Plus, dr. Pieter Mulder, het in reaksie gesê die DA se manier van samewerking deur ander partye “in te sluk” soos met Patricia de Lille se ID, en amper met Agang, veroorsaak dat baie teen-ANC stemmers nie saambeweeg nie. Dikwels verteenwoordig die leiers net hulself, het hy bygevoeg. Hy het die Kollekief vir Demokrasie, waarvan sy party deel is, as ‘n beter model beskryf, en terselfdertyd ander partye genooi om daarby aan te sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marie ·

Ramphele wil self maar te graag apartheid aan die gang hou…….Die volk is reg….maar hulle is ook nie reg nie….So, sy het gedink sy gaan kortpad vat op boontoe, sonder dat sy enige verantwoordelikheid teenoor die D.A het. Ek betwyfel nie haar grade en geld nie, maar sy val nou vir my presies waar die A.N.C val….wat gaan sy anders wees/gee?

Demokraat ·

Marie, jy’s korrek – dr Ramphele het valse verwagtinge gekoester en toe die werklikheid tot haar deurdring, het sy besef dis te moeilik – gedink daar’s kort paaie tot sukses. Hierdie val van haar gaan hard wees en van haar en haar party, Agang gaan daar nie veel oorbly nie.

Dis egter jammer dat ook die DA nie ongedeerd daarvan sal afkom nie – maar laat dit immers ook vir hulle ‘n les wees synde nooit te idealisties te wees nie. Die DA is goed gefundeer en hoef dus nie te haastig te raak nie.

chris ·

Marie net twee dinge.Eerstens die kortpad boontoe is eerstens van die DA aan haar angebied as ek reg is ,dus wou hulle haar gebruik sonder enige verantwoordelikheid(lees insluk soos met de Lille) aan Agang..Die vraag oor wat sy anders gaan wees is ook te vra aan die DA , op watter punte verskul hulle beleid van die ANC sin?
O ja en oor haar geld kan jy maar twyfel.Dit is nou drie.

Wat die res aanbetref is Ramphele op sekere punte reg,die DA word as ‘n wit party gesien hoe belaglik dit ook maar is.En die aanstellings van die ander swart leiers is op meriete?Seker soos Ramphele .
Die alternatief vir die ANC is ‘n ander swart party .Weereens kyk noord en word wys.
Sal hierdie mense nooit leer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.