Randfontein-huisbrand: Vier kinders word saam tot ruste gelê

Die vier kinders van Randfontein wat dood is as gevolg van ʼn huisbrand, word al vier Vrydag saam tot ruste gelê. ʼn Troosdiens word Vrydag om 11:00 by die AGS Finsbury, Randfontein, vir hulle gehou.

Salome Jordaan (11), Tanya Jordaan (4) en Armand Dickson (3) het Sondag in die huisbrand omgekom en hul suster, Adri Jordaan (14), is Woensdagmiddag in die Leratong-hospitaal oorlede.

Jaco Jordaan en sy vrou, Suzie, het hul woning met sy voormalige vrou, Nicolene, en haar huidige man, Tommy Dickson, gedeel. Al vier die volwassenes en ses van hul kinders het Sondag in dié huis geslaap toe ’n brand omstreeks 05:00 uitgebreek het. Die vier volwassenes en twee kinders, Jacques Jordaan (3) en Thomas Dickson (9 maande), het oorleef.

Intussen is daar ‘n gebed- en hulpgroep vir die gesin op Facebook gestig. Volgens die stigter, Christelle de Wet, het die groep Donderdag reeds sowat 600 lede gehad ná die groep Dinsdag gestig is.

“Nie net het die gesin vier kinders verloor nie, maar ook al hul besittings, klere en sentimentele items. Ons vra enigiemand wat kan hulp verleen om asseblief met my in kontak te kom op 073-123-9265 of by [email protected]. Die gesin het tans alles nodig, alles is in die brand vernietig. Diegene wat dalk nie kan help met skenkings nie, bid asseblief net vir hierdie familie, hulle het bitterlik seer,” het De Wet gesê.

Die groep versoek mense landswyd om Vrydag eer te betoon deur denims aan te trek met iets wit (wat simboliseer dat hulle engelkinders is), iets pienk (vir Adri, Salome en Tanya), en iets blou (vir Armand).

Twee gemeenskapslede het ʼn trustfonds vir die gesin begin vir mense wat hulle finansieel wil ondersteun. Vir meer inligting oor die trust, skakel Mike van Deventer op 078-283-8170.

Die trustbesonderhede is:

Ramp Society
Standard Bank Key West
Spaarrekening: 026822903
Takkode: 015841

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.