Randfonteinse huisbrand eis vierde slagoffer

Adri Jordaan (14). Foto: Beeld

Die huisbrand waarin drie kinders Sondagoggend in ʼn huis in Randfontein omgekom het, het sy vierde slagoffer geëis.

Salome Jordaan (11), Tanya Jordaan (4) en Armand Dickson (3) het Sondag in die brand omgekom en hul suster, Adri Jordaan (14), is na die Leratong-hospitaal met ernstige brandwonde geneem. Adri se toestand was kritiek met 87% brandwonde. Sy is Woensdagmiddag in die hospitaal oorlede.

“Ek het nou my derde meisiekind verloor,” het haar pa, Jaco Jordaan, Woensdag aan Beeld gesê.

Volgens hom en ander ooggetuies het dit lank geduur voordat die nooddienste opgedaag het. Die Wes-Randse distriksmunisipaliteit (WRDM) het dié week erken daar was te min toegang tot water in die gebied om die vlamme te blus, wat die brandbestryders genoodsaak het om hulle tenks by die plaaslike Spar te gaan hervul.

Jordaan het gesê die munisipaliteit het sowat twee weke gelede hul kragboks verwyder. Hulle moes van kerse gebruik maak vir lig. Die brand is glo veroorsaak deur ʼn brandende kers wat in Adri se kamer omgeval het. Jordaan oorweeg regstappe teen die munisipaliteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

heidi ·

my innige simpatie aan di gesin. asb neem regstappe. munisipaliteit, brandweer dienste. dit was onnodige verlies van 4 kosbare lewentjies… God met jul.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.