Rangstelsel: SAPD sê poste is nie gevul nie; saak binnekort aangehoor

polisie 2Die vakbond Solidariteit se saak teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oor sy weiering om bevorderings ingevolge sy nuwe rangstelsel op meriete te doen, sal op 9 Junie 2014 in die arbeidshof in Johannesburg aangehoor word. Die SAPD het intussen bevestig dat die 1 634 poste in die range van luitenant, kaptein en majoor, nog nie gevul is nie nadat Solidariteit verlede jaar ʼn interdik bekom het ingevolge waarvan daar geen bevorderings in die poste gemaak mag word nie.

Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê Solidariteit voer die saak namens drie wit polisiebeamptes, lede van Solidariteit, wat nie ingevolge die rangstelsel bevorder is nie weens hul velkleur. Die polisielede het gesamentlik 85 jaar ondervinding. “Solidariteit versoek dat die kollektiewe ooreenkoms tussen die SAPD en die polisievakbonde Popcru en Sapu ongeldig verklaar word. Volgens die kollektiewe ooreenkoms word poste volgens die nasionale rassedemografie aan die onderskeie rasgroepe toegeken. Hierdie proses het tot gevolg dat wit beamptes met meer as 17 jaar diens in die polisie nie bevorder word nie, maar hul swart kollegas wat so min soos 5 jaar diens het, word wel bevorder. Dit is duidelik dat die SAPD ʼn wiskundige rassebenadering volg om die poste ingevolge sy nasionale regstellendeaksie-plan te vul in plaas daarvan om beamptes vir hulle jarelange diens en op grond van meriete te beloon.”

Groenewald sê die SAPD het op 20 April 2010 ʼn nuwe rangstelsel bekendgestel waarvolgens twee nuwe range ─ luitenant en majoor ─ ingestel is om adjudant-offisiere en kapteins geleentheid tot bevordering te gee. “Die beskikbare poste in die rang van kaptein, luitenant en majoor is volgens ras en geslag in groepe verdeel. In 2011, tydens die eerste fase van die rangstelsel, is ʼn totaal van 3 817 polisiebeamptes, waaronder slegs 356 wit beamptes, na die rang van luitenant bevorder. ʼn Totaal van 812 polisiebeamptes is na die rang van kaptein bevorder waarvan geen wit beamptes was nie, terwyl ʼn totaal van 513 polisiebeamptes na die rang van majoor bevorder is, waarvan 48 wit beamptes was.”

Solidariteit het na die eerste fase ʼn saak van onbillike diskriminasie op grond van ras na die arbeidshof verwys. Die vakbond het ook om ʼn dringende interdik aansoek gedoen om die aanvang van die tweede fase van bevorderings ingevolge die nuwe rangstelsel tydelik te stuit. Die arbeidshof het beslis dat die SAPD nie mag voortgaan om polisielede ingevolge die nuwe rangstelsel te bevorder voordat die hofsake wat Solidariteit vroeër oor dié omstrede rangstelsel en die polisie se regstellendeaksieplan aanhangig gemaak het, aangehoor is nie. Solidariteit het in ʼn ander hofsaak versoek dat die SAPD se regstellendeaksieplan in geheel ongeldig verklaar word.

Solidariteit voer die hofsaak namens Johannes van der Walt, Monty Stone en Natascha le Roux.

Meer oor die sake:

  1. Johannes van der Walt is ʼn wit werknemer met 30 jaar diens en hy beklee tans die rang van kaptein. Hy is nie vir bevordering tot majoor oorweeg nie. Van der Walt het in Augustus 2011 ʼn grief in dié verband ingedien. In September 2011 is hy meegedeel dat die mees senior lede, beperk tot die aantal poste per elke rasgroep, vir bevordering oorweeg moet word en dat nie al die lede wat aan die minimum bevorderingskriteria voldoen, bevorder kan word nie. Die saak is na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) en later na die arbeidshof verwys.
  2. Monty Stone is ʼn wit werknemer met 31 jaar diens en hy beklee tans die rang van kaptein. Stone het in Junie 2011 ʼn dokument ontvang met die name van 62 kandidate wat in Gauteng tot majoor bevorder is. Sy naam was egter nie op die lys nie. Hy het dieselfde dag ʼn grief ingedien. In Julie 2011 is Stone ook meegedeel dat nie al die lede wat aan die minimum kriteria voldoen, bevorder kan word nie. Die saak is na die KVBA en later na die arbeidshof verwys.

Natascha le Roux is ʼn wit werknemer met 24 jaar diens en sy beklee tans die rang van adjudant-offisier. Le Roux het reeds in verskeie senior poste waargeneem, waaronder afdelingsbevelvoerder by georganiseerde misdaad in Oos-Londen. Dié pos is vir ʼn kaptein. Le Roux het in Januarie 2012 ʼn grief ingedien nadat dit onder haar aandag gekom het dat verskeie van haar kollegas, meesal haar junior, bevorder is. In Februarie is sy ook meegedeel dat nie al die lede wat aan die minimum kriteria voldoen, bevorder kan word nie. Die KVBA het die saak na die arbeidshof verwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

goerge frederick Rautenbach ·

Hoe nou met my , sit al 23jaar in selfde rang, vingerafdrukdeskindige/junior bevelvoeders kurses, UN pol kursus,bestuursvernif kursus, misdaadvoorkoming, drugtask unit en nag velle meer tans A0. Weet nie ! Weet julle?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.