“Rasgedrewe” moordklagtes teen gesin teruggetrek

ʼn Gesin is vrygelaat na hulle in verband met ʼn ‘rasgedrewe’ moord in hegtenis geneem is. Die gesin het glo ook “genoeg wapens gehad om ʼn oorlog mee te voer”.

Die Germiston-landdroshof het egter Maandag die saak geskrap omdat meeste van dié wapens luggewere was en die gesin nie aan die moord op Sibusiso Titimani (15) verbind kan word nie. IOL berig ʼn aanklag van moord is gister teen die gesin: Braam Harmse (50), sy vrou Susan (50), hul seuns Braam (20) en Danie (19) en skoonseuns Chris Duvenage (25) en Wesley Courtney (27), teruggetrek.

Titimani is glo drie weke gelede in ʼn oop veld in Primrose, Germiston, deur drie mans met balaklawa-musse aangeval. Hy is glo in die kop gesteek en het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Die Primrose-gemeenskap het aangevoer die moord was rasgedrewe en dat hulle gereeld wit mans in balaklawa-musse en kamoefleerdrag by die veld gesien het wat glo wraak wou neem vir die moord op Eugene Terre’Blanche.

Die gesin se huis is uitgewys en die polisie het die onderskeie persone in hegtenis geneem nadat 16 vuurwapens, 15 swaarde, ʼn swastika-kenteken, kamoefleerdrag en ammunisie tydens ʼn klopjag in hul besit gevind is.

Landdros Deon Snyman het Maandag bevind daar is nie genoeg bewyse om die gesin aan die moord te verbind nie en bygevoeg die staat sal nie met die saak voortgaan nie.

Klik hier om die volledige storie te lees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.