Rassegeweld in Griekeland eis eerste lewe

Kort voor die Olimpiese Spele is die Griekse driesprongatleet, Voula Papachristou, weggelaat oor opmerkings wat sy op Twitter gemaak het

Die vlaag rassegeweld in Griekeland het die eerste sterfte opgelewer toe ‘n 19-jarige Irakees na ‘n aanranding Maandag in die hospitaal oorlede is.

Dieselfde vyf mans wat die Irakees in Atene aangerand het, het Sondagaand ook ‘n Roemeen en ‘n Marokkaan afgeransel.

Die rassistiese geweld kom veral voor sedert die regse Goue Daeraad in die onlangse verkiesing sewe persent van die stemme getrek het.

Groot getalle immigrante woon nou in Athene. Die aanvallers ry op motorfietse, en is onder meer met messe en knuppels gewapen. Van die knuppels het ook spykers in.

‘n “Eenheid” van die Goue Daeraad tree glo ook soos ‘n milisie op, en na bewering is die polisie traag om op te tree. Die politici oor ‘n wye front is egter nie met dié vigilante-optrede beïndruk nie.

‘n Kantoor van die Goue Daeraad is ook Maandag aan die brand gesteek.

Kort voor die Olimpiese Spele is die Griekse driesprongatleet, Voula Papachristou, weggelaat oor opmerkings wat sy op Twitter gemaak het. Sy het, met verwysing na die baie immigrante uit Afrika, getweet dat die Wes-Nylse muskiet wat vir die uitbreek van die Wes-Nyl-siekte in Griekeland verantwoordelik gehou word, darem “tuisvervaardigde kos” sal hê.

Dié siekte maak ongeveer een uit elke 150 mense wat dit onder lede kry baie siek. Dit kan ook beroertes en komas veroorsaak. Lyers kan permanente neurologiese skade oorhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.