Die Proteas laat nie sommer ʼn lopiejaagtog maklik lyk nie, maar hulle het sopas vir Afghanistan met vyf paaltjies in Ahmedabad geklop.
Rassie van der Dussen se onoorwonne poging van 76 lopies was die gom wat die Suid-Afrikaanse kolfbeurt byemkaar gehou het en sy vennootskap met Andile Phehlukwayo (39 lopies) het uiteindelik die wedstryd vir die Proteas beklink.
Dit is Suid-Afrika se sewende oorwinning van die Wêreldbeker-toernooi en die span het reeds vir die halfeindstryd-ronde gekwalifiseer waar Australië vir hom wag.
Van der Dussen en Phehlukwayo het 65 lopies om die sesde paaltjie aangeteken nadat Afghanistan se draaiers gedreig het om die Protea-beurt in ʼn wurggreep vas te hou.
Veral Mohammad Nabi (2/35) en Rashid Khan (2/37) was gedugte teenstanders en hulle het saam-saam die lopiekrane toegedraai.
Van der Dussen het egter gewys dat hy ʼn speler vir die groot oomblik kan wees en hy is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.
Vroeër het Quinton de Kock ses vangskote agter die paaltjies benut, terwyl Gerald Coetzee die Afghanistan-kolwers met sy aggressiewe boulwerk laat bontstaan het.
Die Protea-boulers het egter weer gesukkel om die uitklophou te plant en veral Lungi Ngidi het gesukkel.
- Opsomming van die telkaart:
Afghanistan 244/10 in 50 boulbeurte: Azmatullah Omarzai 97*, Gerald Coetzee 4/44 en Keshav Maharaj 2/25.
Suid-Afrika 247/5 in 47,3 boulbeurte: Rassie van der Dussen 76*, Quinton de Kock 41 en Mohammad Nabi 2/35.
- Wêreldbeker-punteleer:
- Indië: 16 punte ná agt wedstryde
- Suid-Afrika: 14 punte ná nege wedstryde
- Australië: 12 punte ná agt wedstryde
- Nieu-Seeland: 10 punte ná nege wedstryde
- Pakistan: 8 punte ná agt wedstryde
- Afghanistan: 8 punte ná nege wedstryde
- Engeland: 4 punte ná agt wedstryde
- Bangladesj: 4 punte ná agt wedstryde
- Sri Lanka: 4 punte ná nege wedstryde
- Nederland: 4 punte ná agt wedstryde