‘Rasvoorval’ by World of Golf

Die rassistiese mishandeling en aanranding op ‘n werknemer by die World of Golf in Johannesburg is “onaanvaarbaar”, het die pretpark se eienaar Dinsdag gesê.

“’n Onaanvaarbare onderonsie het Saterdagaand tussen ‘n besoeker aan die instansie en een van die werknemers, Nathan Maluleke, uitgebreek,” het Darryl Edges, eienaar van World of Golf, in ‘n verklaring gesê.

Maluleke is glo erg geslaan en dit het “ongelukkig in ‘n volskaalse bakleiery ontaard”, het Edges gesê. Die polisie is na die toneel ontbied en hulle het die vermeende aanvaller in hegtenis geneem. Die polisie is nie dadelik beskikbaar om die voorval te bevestig nie.

“Ons interne sekuriteit kon ongelukkig nie die situasie, wat vinnig buite beheer geraak het, hanteer nie,” het Edges bygevoeg. Volgens Edges sal ‘n interne ondersoek, buiten die polisie-ondersoek, van stapel gestuur word. “Nathan werk al lank as ‘n professionele gholfspeler vir die Gary Player Gholf-ervaring en ‘n gewaardeerde lid van ons span,” het hy gesê. Hy sê die More Golf-groep en die World of Golf duld nie rassisme nie. “Ons onmiddellike besorgdheid lê by Nathan se vinnige herstel en ons is verseker dat die regsproses sy gang sal gaan.”

“Nathan is steeds in ‘n ernstige, maar stabiele toestand in die hospitaal. Dokters sal op hom opereer sodra die swelling gesak het. Ons dink aan en bid vir hom en sy familie wat ons volle ondersteuning in elke aspek tydens en ná sy herstel verg,” het Edges bygevoeg.

Edges sê die maatskappy sal Maluleke die ondersteuning en raad bied om regstappe teen sy vermeende aanvaller te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.