Regter Mogoeng Mogoeng, wat aanbeveel word vir die pos van hoofregter, het Saterdagoggend vrae deur die Regterlike Dienskommissie (RDK) beantwoord om sy geskiktheid vir dié pos te bepaal.
Mogoeng het tydens die ondervragingsessie vir die geleentheid gevra om om homself te verdedig. Hy het gesê hy is erg gekritiseer in die media oor sy bevoegheid vir die pos en sy beweerde afguns van vroue en homoseksuele mense. Mogoeng het onder meer sy rekord as regter aan die RDK voorgehou. ʼn Groep mense het voor Mogoeng se onderhoud by die konvensie sentrum in Kaapstad betoog. Mogoeng is deur president Jacob Zuma genomineer vir die pos nadat hoofregter Sandile Ngcobo se termyn op 14 Augustus verstryk het. Zuma is erg gekritiseer oor die wyse waarop hy Mogoeng benoem het. Daar is onder meer kommer uitgespreek oor die feit dat die RDK weier om nog benoeming te aanvaar. Regsgeleerdes meen die RDK se onderhoud met Mogoeng is dus blote formaliteit. Die RDK sal na afloop van die onderhoud ʼn stemming hê en ʼn aanbeveling maak aan Zuma. Dit is egter Zuma se prerogatief of hy hom aan die aanbeveling steur.