Reaksie op Zuma se kabinetskommeling

Zuma kondig gister veranderinge aan sy kabinet aan. Foto: GCIS

Opposisiepartye het president Jacob Zuma se kabinetskommeling grotendeels verwelkom maar meen daar was nog ministers wat die trekpas moes kry.

Cosatu het die nuwe ministers en adjunkministers geluk en sterkte toegewens. Die ANC het ook sy steun aan die nuwe lede toegesê. Die IFP sê die skommeling is ʼn eerlike erkenning deur Zuma dat die kabinet nie op sy beste funksioneer nie. Agang SA meen Zuma het nie genoeg gedoen om die land se burgers te verseker dat hy ernstig is om korrupsie hok te slaan nie. Die DA sê Zuma het nie goeie regering bo “baantjies vir boeties” gestel nie. Volgens die DA het Zuma met die skommeling gewys dat hy meer bekommerd is oor sy politieke oorlewing as goeie regering. Die party meen Nathi Mthethwa, minister van polisie, Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, en Susan Shabangu, minister van minerale hulpbronne, moes ook die trekpas gekry het. Die onderwysvakbond Sadtu meen Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, moes eerder die trekpas gekry het. Die Vryheidsfront Plus sê sekere omstrede ministers is vervang en sekere swak ministers is behou. Die party is ook van mening dat Joemat-Pettersson en Motshekga die trekpas moes kry.

Zuma het Dinsdag vir die vierde keer sedert 2010 sy kabinet geskommel. Dina Pule, minister van kommunikasie, Tokyo Sexwale, minister van huisvesting, en Richard Baloyi, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, is hul poste kwyt. Yunus Carrim vat by Pule oor terwyl Connie September moet probeer om Sexwale se skoene vol te staan. Lechesa Tsenoli sal by Baloyi oorneem. Ben Martins, minister van vervoer, en Dipuo Peters, minister van energie, word omgeruil. John Jeffery is die nuwe adjunkminister van justisie en konstitusionele ontwikkeling, Michael Masutha is die nuwe adjunkminister van wetenskap en tegnologie, Andries Nel is die nuwe adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake terwyl Pamela Tshwete as die nuwe adjunkminister van landelike ontwikkeling en grondhervorming aangekondig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.