Reaksies op begroting

Pravin Gordhan

Solidariteit het vandag daarop gewys dat Suid-Afrikaners se welvaart nie vermenigvuldig kan word deur ’n herverdelingsbegroting nie. Slegs ’n derde van Pravin Gordhan, minister van finansies, se mediumtermynbegroting word nie aan herverdeling gewy nie. Dit is duidelik dat die regering bereid is om baie effektief te wees om meer belasting uit hardwerkende Suid-Afrikaners te tap. Hoewel Gordhan baie gesê het oor beter bestedingsdoeltreffendheid, is dit ’n refrein wat jaarliks herhaal word terwyl die praktyk die teendeel wys.

 

Volgens Piet le Roux, senior ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut, was die sogenaamde belastingverligting wat Suid-Afrikaners in Gordhan se Februarie-begrotingsrede ontvang het slegs ’n skynverligting. “Met die mediumtermynbegroting bevestig Gordhan dat die belastinglas inderwaarheid aanhou groei. Gordhan spog daarmee dat groei in belastinginvordering aan volgehoue verbetering in belastingnakoming toegeskryf kan word. Hy begroot vir belastinginvordering om van R901 miljard tot R1 200 miljard te styg teen 2015. Dit wat Gordhan as beter belastingnakoming beskryf, is egter niks anders as swaarder belasting op hardwerkende Suid-Afrikaners nie.”

 

Le Roux sê die klem op beter invordering staan in kontras met die regering se bestedingskant, wat hy as ’n “donker gat van teenproduktiwiteit” beskryf. “Belasting verteenwoordig skaars hulpbronne wat uit welvaartskeppers se hande geneem is. Dit verhoed hulle om deur die markekonomie welvaart vir almal te skep.” Volgens Le Roux is dit egter nie al nie: “Hierdie geld word dan nog boonop op ’n hopelose wyse deur die regering bestee – dikwels met teenproduktiewe gevolge.”

 

Gordhan het gewaarsku dat Suid-Afrikaners se bereidwilligheid om belasting te betaal nooit as vanselfsprekend gereken moet word nie. Le Roux beaam Gordhan se stelling en meen dat ondoeltreffende staatsbesteding besorgde Suid-Afrikaners al hoe meer beswaard sal maak om belasting te betaal.

 

Die Demokratiese Alliansie het die beperking op staatsuitgawes verwelkom, aangesien die 4,8 persent begrotingstekort, veel hoër is as die 1,9 persent van ‘n gemiddelde ontwikkelingstaat. Hulle sê die begroting toon opnuut die tesourie se onvermoë om die makro-ekonomiese hervormings te beïnvloed.

 

Die VP Plus sê al die ekonomiese aanduiders, soos deur die minister van finansies in sy mediumtermyn-begroting gestel, beweeg in die verkeerde rigting. Die begrotingstekort is meer as wat die minister in Februarie voorspel het en die groeikoers is laer. Hulle sê as die ekonomie ‘n pasiënt in die hospitaal was, beteken dit dat al die alarms afgaan en dat dringende maatreëls nodig is om die pasiënt te red.

“Die minister was dapper in sy aankondiging waardeur hy staatsbesteding probeer bekamp en meer kontrole oor die vermorsing van geld deur staatsdepartemente probeer kry eerder as om belasting te verhoog om die tekorte op staatsinkomste uit te wis. Die Vryheidsfront Plus verwelkom hierdie benadering en sal die minister in die parlement steun om besparings en kontrole oor die staatsdiens te bewerkstellig. Ongelukkig het hierdie tipe maatreëls in die verlede nie geslaag nie en sal die tesourie met staatsdepartemente streng moet wees as hulle hoop dat hierdie maatreëls Suid-Afrika uit die ekonomiese moeras wat voorlê, sal kry.

Die staatsdiens-salarisbegroting sal moet ingekort word asook die huidige gees in die land dat jy met onwettige stakings jou salaris kan verhoog sonder dat dit enige impak op die groter ekonomiese prentjie van die land het.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.