Red Bull onttrek “Jesus”-advertensie

'n Foto van hoe die advertensie begin. Foto: Youtube

Red Bull het ʼn advertensie wat glo wys dat Jesus nie regtig “op water loop” nie en sy naam ydellik gebruik word, onttrek na talle klagtes.

Die advertensie wys hoe “Jesus” in ʼn visserboot sit saam met twee dissipels. Hy sê dan hy is verveeld en dat hulle niks gaan vang vandag nie. Hy klim uit die boot en begin dan op die water loop. Die een dissipel vra dan hoe hy dit regkry om op die water te loop wanneer die ander een sê “Ek dink hy het ʼn Red Bull gedrink.” Die figuur wat “Jesus” uitbeeld antwoord dan dat dit niks met Redd Bull te doen het nie, waarop die dissipel sê: “Nie nog een van jou wonderwerke nie?”. “Jesus” sê dan dit is nie ʼn wonderwerk nie maar dat jy net moet weet waar die klippe is om op te loop. Die volgende oomblik gly die figuur en gebruik “Jesus” as ʼn kragwoord. Die bestuurder van dispuutbeslegting by die Gesagsowerheid vir Reklamestandaarde (ASA), Leon Grobler, het aan Maroela Media bevestig dat hulle meer as 20 klagtes in 24 uur gekry het oor die advertensie. Die Suid-Afrikaanse Katolieke Raad van Biskoppe (SAKRB) het die ontrekking van die advertensie verwelkom en ʼn beroep gedoen op Red Bull om die veldtog heeltemal te staak. SAKRB het intussen ook ʼn beroep gedoen op mense om die geld wat hulle op Red Bull sou spandeer aan liefdadigheidsorganisasies te skenk. Red Bull Suid-Afrika kon nie vir kommentaar bereik word nie. Die advertensie kan steeds op Youtube gesien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.