Reddingspogings onderweg by twee verskillende myne

Reddingspogings vir onwettige mynwerkers wat ondergronds by ʼn diamantmyn naby Kleinzee vasgekeer is, is Woensdagoggend in die wiele gery. Volgens kaptein Cherelle Ehlers, ʼn polisiewoordvoerder, maak los gruis die reddingsproses onmoontlik omdat dit bly inval.

Altesaam 19 onwettige mynwerkers het Dinsdag in die Bontekou-myn vasgeval ná ʼn tonnel van die myn, wat in April toegemaak het, omstreeks 03:00 ingestort het. Elf mense kon ontsnap en het die polisie in kennis gestel. Volgens Ehlers het die mans onwettig vir diamante gemyn. Na wat verneem word, is daar nog 16 mense vasgekeer. Een persoon is Dinsdag gered en daar is Woensdag op twee se liggame afgekom.

“Ingenieurs was vroeër vandag op die toneel om te bepaal hoe die reddingsproses kan voortgaan. Hulle gaan ʼn sloot grawe wat parallel met die tonnel loop en só probeer toegang tot die tonnel kry. Ons wag nou net vir toerustings voor die reddingspoging kan hervat,” het Ehlers aan Maroela Media gesê.

Sy het gesê daar is nog geen aanklagtes teen die onwettige mynwerkers gemaak nie. “Tans konsentreer ons om hulle daar uit te kry voor ons gaan besluit wat om volgende te doen,” het sy gesê.

Intussen het onwettige mynwerkers óók Dinsdagoggend in ʼn ongebruikde Harmony-goudmyn naby Welkom vasgeval. Nege onwettige myners is Woensdag teen 16:00 gered nadat hulle sowat 500 meter ondergronds vasgekeer was. Die polisie het gesê hulle is in hegtenis geneem en sal van betreding aangekla word. Die vermoede is dat nog 19 myners steeds ondergronds vasgekeer is.

Die departement van minerale het sy skok oor die voorvalle uitgespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.