Rede vir onbeskermde staking by Lonmin vandag bekend – Solidariteit

Foto: Govan Whittles/EWN

Die vakbond Solidariteit sê daar sal uiteindelik vandag uitsluitsel verkry word oor of die onbeskermde staking en gepaardgaande geweld by Lonmin se Marikana-myn buite Rustenburg inderdaad uit ʼn geskil oor rotsbooroperateurs se lone spruit.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, sê daar word sedert 10 Augustus 2012 gespekuleer oor of die geweld by Lonmin die gevolg van vakbondwedywering of selfs polities gemotiveerd is weens die georganiseerde en geweldadige wyse waarop die gewapende stakers en protesdeelnemers die aksie van stapel gestuur het. “Vrae het ook ontstaan oor of baie van die stakende werkers en hul verteenwoordigers inderdaad werknemers van Lonmin is en of die meerderheid van hulle wel rotsbooroperateurs is.”

Du Plessis sê indien die stakende werkers vandag, soos deur die vredesooreenkoms bepaal word, terugkeer werk toe en diegene wat nie werknemers van Lonmin is nie van die onwettige staking onttrek sodat loononderhandelinge ’n aanvang kan neem, dan gaan die protesoptrede duidelik oor ’n loongeskil alleen en dit sal moontlik opgelos kan word. “Indien die onbeskermde staking, die onwettige protesaksie en die gepaardgaande intimidasie voortduur ten spyte van die geleentheid om die geskil om die onderhandelingstafel op te los, dan is dit duidelik dat hierdie gewelddadige protesoptrede ’n meer diepliggende oorsaak het en dus moeilik by die salarisonderhandelingstafel opgelos sal word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.