Reeksmoordenaar glo doenig in Groblersdal

Die polisie vermoed ‘n reeksmoordenaar is doenig in en rondom Groblersdal in Limpopo.

“Ná a reeks moorde onlangs in die Groblersdal-gebied glo die polisie ‘n reeksmoordenaar is hier aan die werk,” het brigadier Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die polisie, Sondag gesê. “Sedert April vanjaar is vier vroue reeds verkrag en vermoor en die modus operandi was telkens dieselfde.”
Die ontbinde liggaam van die eerste vrou, in haar laat 30s, is op 8 April in bosse naby die Air Stripped-informele nedersetting opgespoor. In Meimaand het ‘n boer op die liggaam van Monica Mohlahlo, van die Masakaneng-dorpie, op sy plaas in Schoemanweg, afgekom. Die derde vrou se verkoolde lyk is in Junie-maand in bosse naby Groblersdal opgespoor. “Die polisie het ook ‘n soektog van stapel gestuur nadat die 28-jarige Dinah Morulaneng Lekola van Groblersdal op 27 Mei 2012 as vermis aangemeld is,” het Mulaudzi gesê. Lekola sou glo ‘n man gaan ontmoet wat moontlik vir haar ‘n werk aangebied het. Sy is sedertdien nog nie weer gesien nie.

“Aanvanklike polisie-ondersoeke het daarop gedui dat die drie vroue, wie se lyke opgespoor is, verkrag is voordat hulle vermoor is,” aldus Mulaudzi.

Die polisie glo die reeksmoordenaar teiken vroue en het vroue gemaan om uiters versigtig te wees, en om nie te ryloop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.