Die polisie in Japan het Dinsdag gesê hulle is op soek na ‘n moordenaar, wat glo gedigte skryf, nadat die liggame van vyf mense in ‘n klein dorpie opgespoor is.
Die vyf slagoffers verteenwoordig glo ‘n derde van die bevolking van dié klein dorpie in Yamaguchi, waar die polisie Sondag drie lyke opgespoor het nadat twee huise afgebrand is. Ondersoekbeamptes het Maandag nóg twee mense se lyke opgespoor wat glo doodgeslaan is. Al vyf persone was in hul 70s of 80s.
Die hoof verdagte is ‘n 63-jarige dorpenaar by wie se huis die polisie op ‘n haiku-gedig afgekom het. ‘n Haiku is ‘n tradisionele Japanese gedig van drie reëls met 17 lettergrepe, wat in ‘n vyf-sewe-vyf-rangskikking neergepen word. Die haiku by die vermeende moordenaar se huis lui soos volg: “Setting a fire – smoke gives delight – to a country fellow” [Begin ‘n brand, rook verskaf plesier, aan ‘n landelike ou].
Die man, wie se naam nog nie bekend gemaak is nie, staan glo in die dorpie bekend as ‘n moeilikheidmaker.
Yomiuri Shimbun het gesê die verdagte het glo in ‘n stadium gespog dat hy “immuun” sal wees teen vervolging indien hy mense vermoor, omdat hy op medikasie is. Dit is nie duidelik wat die man se gesondheidstoestand is nie.