Reeksverkragter se aanklagte kan verdriedubbel

Tot so veel as 97 aanklagte kan uiteindelik gebring word teen die Oos-Randse man wat reeds van 33 verkragtings en pogings tot moord aangekla word, het ʼn aanklaer Woensdag gesê.

Toe die saak aanvanklik op die rol geplaas is, kon DNA van die man aan 33 verskillende sake gekoppel word, het aanklaer Joyce Xakaza aan die landdroshof van Alberton gesê. Sy het gesê forensiese bewyse is sedertdien ook versamel om hom aan dosyne ander misdade te verbind. “In ʼn neutedop, sal daar ongeveer 97 aanklagte teen die man gebring word.”

In dié stadium word die man deur DNA-bewyse aan 40 ander sake verbind, maar dit kan steeds styg. “Ander aanklagte sluit poging tot moord en ander seksuele misdrywe in,” het Xakaza gesê.

Die man se naam kan nog nie bekend gemaak word nie, aangesien hy nog nie op die aanklagte gepleit het nie. Landdros Janice Saulse het die saak tot 14 Mei uitgestel om aan die verdediging kans te gun om ʼn formele aansoek in te dien om die dokumentasie van die Staat te bekom.

Die man het ʼn rooi T-hemp en ʼn geskeurde blou denim aangehad toe hy Woensdag in die hof verskyn het. Hy het doodstil bly staan terwyl die hofverrigtinge voortgeduur het. Hy word tans daarvan aangekla dat hy 33 meisies tussen die ouderdomme 10 en 14 verkrag het. Hy staar ook 33 aanklagte van poging tot moord in die gesig. Xakaza het bevestig dat die man deur die Sterkfontein Psigiatriese hospitaal ondersoek sal word. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.