“Reeksverkragter” weer in Pretoria aangekeer

ʼn Vermeende reeksverkragter wat uit polisie-aanhouding ontsnap het, is weer in Hammanskraal buite Pretoria in hegtenis geneem.

Die polisie het ʼn wenk ontvang dat Isaac Samuel Dibetso (41) by ʼn huis in Mogogelo Village wegkruip nadat hy op 5 September uit polisie-aanhouding by die landdroshof in Ga-Rankuwa ontsnap het. “Toe die verdagte agterkom die polisie is daar om hom vas te trek, het hy probeer vlug, maar die beamptes het hom vasgetrek,” het kaptein Pinky Tsinyane, woordvoerder van die polisie, gesê.

Na bewering het Dibetso verskeie vroue in Akasia, Pretoria-Noord en Ga-Rankuwa verkrag. ʼn Ondersoek het ook aan die lig gebring dat Dibetso veral vroue geteiken het wat desperaat op soek was na werk. Hy sou hulle kontak en dan afsprake met hulle reël. “Hy sou dan, tydens die afspraak, voorgee om hulle na die werkplek te neem,” het Tsinyane bygevoeg. “Hy het hulle na ʼn beboste gebied lei waar hy gedreig het om hulle te vermoor en hulle dan verkrag.”

Dibetso sal na verwagting binnekort in die landdroshof in Pretoria en Ga-Rankuwa verskyn op aanklag van gewapende roof, ontsnapping uit aanhouding en verskeie aanklagte van verkragting.

Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.