Reeva Steenkamp wat op Valentynsdag verlede jaar deur Oscar Pistorius doodgeskiet is, se familie het Dinsdag, enkele dae voor die eerste herdenking van haar dood, gesê hulle soek berusting.
“Al wat ons soek is berusting en om te weet dat ons dogter nie gely het op daardie tragiese dag nie,” het die familie in ‘n verklaring gesê.
Barry en June Steenkamp het familie, vriende en die mense van Suid-Afrika en regoor die wêreld bedank vir hul deernis en woorde van bemoediging.
Die familie het gesê waneer Pistorius se moordverhoor verby is, beplan hulle om ‘n liefdadigheidsorganisasie wat na mishandelde vroue sal omsien, ter nagedagtenis aan Reeva op die been te bring. “Reeva het ‘n passie gehad vir mishandelde vroue en haarself gereeld teen huishoudelike geweld uitgespreek. Sy het altyd beplan om eendag ‘n sentrum oop te maak waar mishandelde vroue versorg kan word.”
Pistorius se verhoor sal na verwagting vanaf 3 tot 20 Maart in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor word. Hy word daarvan aangekla dat hy Steenkamp in ʼn badkamer in sy huis doodgeskiet het. Pistorius het verlede jaar tydens sy borgtogaansoek aangevoer dat hy Steenkamp vir ʼn inbreker aangesien het.
Die staat gaan glo altesaam 107 getuies roep om in die verhoor te getuig. Pistorius se suster Aimee, sy oom Arnold, die voormalige polisieondersoekbeampte Hilton Botha, en inwoners van die Silver Woods-landgoed waar hy tydens die voorval gewoon het, is onder die getuies.
Mediese kenners, ‘n weervoorspeller, paramedici en ballistiese en forensiese deskundiges sal ook getuig. Pistorius se voormalige vriendinne, Melissa Rom en Samantha Taylor, sal ook getuig.
Verlede maand is berig dat Pistorius se prokureurs glo vir byna ses maande lank met Steenkamp se familie onderhandel oor ‘n finansiële skikking. Albei partye het na bewering geweier om kommentaar te lewer oor die besonderhede, insluitend die bedrag wat oorweeg word weens die sensitiewe aard daarvan. Steenkamp het glo haar ouers finansieel bygestaan. Steenkamp se familie het destyds die media versoek om hul privaatheid tydens die moeilike tyd te respekteer.
MultiChoice het onlangs aangekondig dat hulle vroeg in Maart ʼn 24-uur DStv-kanaal gaan bekend stel wat dekking gaan bied aan Oscar Pistorius se moordverhoor. Die kanaal sal op 2 Maart beskikbaar wees op kanaal 199. Die kanaal staan bekend as The Oscar Pistorius Trial: A Carte Blanche Channel en dit gaan ook eksklusiewe dokumentêre en in-diepte analise van kenners uitsaai. Die vervaardigers van Carte Blanche behartig die kanaal. Lees meer hier.
Reeva se ouers ht nou arme Oscar gedagvaar want hulle lei honger,maar wie gan die geld voorsien vir die sentrum wat hulle wil stig,als kos geld,ook Oscar?
Waar gaan hulle geld kry vir die liefdadigheidsorganisasie? Gaan hulle registreer wees as die publiek moet bydrae anders is dit n tweede Pippie fiasko ….. of moet Ocar betaal en vir hoe lank? Bedoel hy moet ook mos aan gaan met sy lewe.