Regering en Malema beloof hulp aan Brits-inwoners

Betogers in Mothutlung naby Brits het glo die pad met brandende bande versper Foto: @bemol79/Twitter

Betogers in Mothutlung naby Brits het glo die pad met brandende bande versper Foto: @bemol79/Twitter

Verskeie regeringsministers en EFF-leier Julius Malema het Dinsdag op Mothutlung naby Brits toegesak met beloftes van hulp nadat twee mans tydens ʼn betoging oor lopende water doodgeskiet is.

Edna Molewa, minister van water en omgewingsake, het gesê inwoners van dié informele nedersetting in Noordwes sal voor die naweek lopende water hê. Die gebied word al die afgelope drie maande van water voorsien deur watertenkers nadat die pompe gebreek het. “Die water sal Vrydag terug wees,” het sy aan die inwoners gesê.

Molewa was saam met Nathi Mthethwa, minister van die polisie, in Mothutlung. Hulle het ook besoek afgelê aan die families van twee mans wat Maandag tydens die gewelddadige betoging doodgeskiet is.

Beeld-koerant het die slagoffers bekend gemaak as die mynwerker Osia Rahube en ʼn fotograaf genaamd Bra Mike. Die polisie het die twee glo geskiet toe hulle saam met ander inwoners op pad was na Madibeng-munisipaliteit om water te eis.

Molewa sê drie waterpompe in die gebied het gebreek en sy sê dit is ʼn “baie vreemde probleem”. Volgens Molewa behoort die ander twee steeds te werk as een van die pompe breek. Dieselfde probleem is glo in drie ander gebiede ondervind. Sy het onderneem om die kwessie te ondersoek en enigiemand, wat skuldig bevind word, te straf. “Ons sal nie rus voordat ons weet wat gebeur het nie,” het Molewa aan die inwoners gesê.

Inwoners het aan Molewa gesê daar was beweerde korrupsie in die aanstelling van ʼn kontrakteur wat watertenks moes voorsien. Sy het onderneem om Magalies Water aan te stel om die water af te lewer.

Mthethwa het op sy beurt aan die inwoners gesê sy kantoor sal die skietery ondersoek. Hy sê interaksie met die families en ooggetuies het lig gewerp op die voorval. Hy doen ʼn beroep op enigiemand anders met inligting om die Onafhanklike Polisieondersoek-direktoraat (Opod) met hul ondersoek by te staan. “As mense nie saamwerk en inligting aan Opod gee nie, weet ons nie wat gebeur het nie,” het Mthethwa gesê. Hy het die inwoners ook versoek om met die polisie te praat oor die beweerde korrupsie.

ʼn Gemeenskapsleier wat slegs as Chris bekend staan, het gesê hulle het gesing en grappies gemaak toe die aanval plaasgevind het. “Dit het sonder waarskuwing gebeur. Nie eers een enkele klip is gegooi nie,” het hy gesê.

Chris sê beamptes het traangas na hulle rigting gevuur, maar toe hulle probeer verduidelik dat hulle nie gewelddadig is nie, is een persoon in die been geskiet. “Ons het hom in ʼn motor geplaas en ʼn polisiebeampte het hom van naby in die bors geskiet,” beweer Chris.

Hy doen ʼn beroep op die inwoners om saam met beamptes te werk om seker te maak dat geregtigheid geskied.

Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), het vroeër sy ondersteuning aan die inwoners beloof. “Ons moet ʼn behoorlike optog reël na Madibeng-munisipaliteit en ek sal daar wees,” het hy aan die plaaslike inwoners gesê. Hy sê dit is die gemeenskap se reg om water te hê en hy blameer die situasie op swak administrasie. “Terwyl die water nog onder Magalies was, was daar nie sulke probleme nie,” het hy gesê.

Inwoners het ook van die geleentheid gebruik gemaak om te kla oor hul wyksraadslid. Hulle beweer die persoon het hulle Sondag met ʼn vuurwapen gedreig toe hulle sy hulp gaan vra het. Malema het hulle gemaan om nie bang te wees vir die raadslid nie en om te baklei vir dit waarin hulle glo. “Ons sal seker maak dat die persoon, op wie die vuurwapen gerig is, ʼn saak sal oopmaak sodat hy [die raadslid] toegesluit kan word. Malema sê dit is nie die gemeenskap se skuld dat die raadslid nie speelgoed gehad het toe hy grootgeword het nie. Die skare het hierop uitgebars van die lag en hande geklap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eben ·

Beloftes …. beloftes!!! Edna Molewa lig bietjie jou dik allie en doen ook ondersoek in Brits se water suiwersaanleg. Kyk bietjie wat daar aangaan!!

Henk Venter ·

Nou verstaan ek nie so lekker nie. Is die minister dan nie eintlik veronderstel om toe te sien dat die munisipaliteit die werk moet doen nie? Sy IS mos ‘n ANC minister en die munisipaliteit IS mos ‘n ANC beheerde instansie? Dit is twee feite wat onbetwisbaar is, want as enige ander party ‘n minister in die pos gehad het en die munisipaliteit was NIE onder beheer van die ANC nie, dan SOU die pompe en die res van die infrastruktuur instand gehou gewees het en selfs uitgebrei gewees het en nie verduister gewees het nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.