Regering hof toe oor Nkandla-verslag

Zuma se Nkandla-woning

Zuma se Nkandla-woning

Regeringsdepartemente in die veiligheidsgroepering se hofaansoek om Thuli Madonsela, openbare beskermer, te keer om haar verslag oor opgraderings aan president Jacob Zuma se Nkandla-woning bekend te maak, word Vrydag aangehoor.

Die departemente het ʼn dringende aansoek voor die hooggeregshof in Pretoria gebring en dit is tot Vrydag uitgestel. Die regering sê in ʼn verklaring dat hy die hof genader het na onsuksesvolle pogings om uitstel te kry om op Madonsela se verslag kommentaar te lewer. “Die ondersoek deur die openbare beskermer is oor ʼn periode van ʼn jaar gedoen en dek verskeie wetgewende- en veiligheidskwessies waarop daar nie net in ʼn paar dae kommentaar gelewer kan word nie.” Nathi Mthethwa, minister van polisie, het in ʼn beëdigde verklaring gesê dat Zuma se veiligheid in gedrang kan wees indien Madonsela se verslag openbaar gemaak word sonder kommentaar van die regering.

Madonsela het die voorlopige verslag vroeër aan die ministers van polisie, openbare werke, verdediging en staatsveiligheid oorhandig sodat hulle kon vasstel of die inhoud Zuma se veiligheid in gedrang kan bring. Die ministers moes teen Vrydag daarop kommentaar lewer waarna die verslag openbaar gemaak sou word. Die verslag handel oor die omstrede opgraderings van meer as R200 miljoen aan Zuma se Nkandla-woning in KwaZulu-Natal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarie van Niekerk ·

Wat gaan die regering nog doen om te keer dat die waarheid oor Nkandla uitkom? Nou is hulle bereid om aan die einde van die dag nog miljoene te spandeer in hofsake om die verslag uit die belastingbetalers se hande uit te hou en dit terwyl dit tog alles oor ons eie geld gaan. Waar is die DA dan nou? Hulle steun die ANC oor regstellende aksie, slaan dan gat oor kop en se oeps ons het ‘n fout gemaak wanneer die druk op hulle te erg raak maar nou is hulle doodstil. Hoekom bring hulle dan nie ou ‘n baie dringende aansoek dat die verslag onmiddellik aan die belastingbetalers bekend gestel word nie. Helen Zille se Black Sash onderrok hang deesdae so ver uit sy trap dit al vas

Johan Viljoen ·

Al waar sy lewe in gevaar sal wees, is in die tronk, waar hy hoort.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.