Regering kap Oscar se pa oor uitlatings

Henke Pistorius

Die regering het Oscar Pistorius se pa, Henke, se uitlatings dat die regering nie bereid is om witmense te beskerm nie as ongegrond afgemaak.

“Misdaad is ‘n maatskaplike probleem, ‘n gemeenskaplike vyand wat nie ras ken nie en dit raak alle burgers,” het Phumla Williams, woordvoerder van die regering se kommunikasie-en-inligtingsdiens (GCIS), gesê. “Suid-Afrika is ʼn demokratiese land met ʼn effektiewe misdaadvoorkoming- en veiligheidsprogram wat die beskerming van alle mense in die land verseker ondanks hul ras.” Williams het ʼn beroep gedoen op landsburgers om nie “onverantwoordelike uitlatings” te maak nie maar eerder saam te werk om “vrede en harmonie” in die land te bewerkstellig.

Henke het in ʼn onderhoud met The Telegraph gesê dit is as gevolg van geweld dat Suid-Afrikaners hulself wil bewapen. Volgens die berig het Henke gesê hy en ander lede van sy familie besit vuurwapens omdat hulle nie die polisie kan vertrou om hulle teen kriminele te beskerm nie. Die ANC het Henke se uitlatings as “onwaar en rassisties” uitgemaak. Jackson Mthembu, nasionale woordvoerder van die ANC, het gesê die party verwerp met minagting die aantyging wat Henke gemaak het dat “die ANC-regering nie bereid is om wit Suid-Afrikaners te beskerm nie”. Die Pistorius-familie het hom van Henke se uitlatings gedistansieer. “Die Pistorius-familie besit wapens, maar slegs vir sport- en jagdoeleindes,” het Oscar se oom Arnold gesê. “Oscar en die res van die Pistorius-familie distansieer onsself van dié aanmerkings. Henke se onderhoud met die koerant was nie deur ons mediaskakelbeamptes goedgekeur nie. Die aanmerkings verteenwoordig nie Oscar se siening of dié van die Pistorius-familie nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Brenda ·

Ja, ons regering beskerm ons so goed, dat daar DAAGLIKS witmense wreedaardig aangeval en vermoor word. Maar die ANC ruk die rassisme-kaart net uit wanneer dit HULLE pas! Lewer jy kommentaar oor die totale gebrek aan beskerming (‘n basiese diens waarvoor ons BAAAAAie belasting betaal) is jy ‘n RASSIS. Oor die Afrikaner kan hulle net se wat hulle wil, sonder dat geen haan daarna sal kraai nie. O ja,NET witmense kan RASSISTIES wees…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.