Regering opnuut gekap oor omstrede kopieregwetgewing

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Twee politieke partye het nou ook hulle stemme gevoeg by ʼn string akademici, uitgewers, skrywersverenigings, regspraktisyns en ander belanghebbendes wat besorg oor die uiters ingewikkelde en kommerwekkende wysigingswetsontwerp oor kopiereg is.

Selfs die stromingsreus Netflix het so onlangs as April gewaarsku dat ʼn tantiemebetalingstelsel vir Suid-Afrika, soos voorgestel in dié kopieregwette, die plaaslike rolprentbedryf skade kan berokken.

Om sake nog verder te vertroebel is daar onlangs onthul dat die departement van handel, nywerheid en mededinging (DTIC) nooit die nodige sosio-ekonomiese impakstudie vir die wysigingswetsontwerp gedoen het nie. Dit kom daarop neer dat inligting oor die proses om die kopieregwetsontwerp in te stel, wan voorgestel is, meen die Demokratiese Alliansie (DA).

Die VF Plus het ook gesê die party is teen die Gauteng-wetgewer se ondersteuning van kopiereg- en voordraers-wetsontwerpe gekant en gaan ʼn minderheidsverslag hieroor by die wetgewer indien. Met die verslag hoop die party om die irrasionaliteit en vernietigende uitwerking van die wetsontwerp uit te lig.

Die omstrede wetgewing kom al sedert 2017 aan toe vorige openbare  sittings oor die wysigingswetsontwerp oor kopiereg in die parlement gehou is. Daar is deurlopend gevoel dat kundiges nie geraadpleeg is nie en boonop is dit ook nie duidelik wie se belang die wetgewing wil dien nie.

Opposisieparty gekant teen wetsontwerp

Cayla Murray, die DA se woordvoerder oor finansies en ekonomiese geleenthede in die Wes-Kaap, sê hoewel die party kopieregbeskerming en vergoeding van kunstenaars ondersteun, is hulle nie te vinde vir die wetsontwerp in sy huidige weergawe nie. Volgens Murray behoort die wetsontwerp in geheel heropgestel en moet die volledige regsproses in die samestelling daarvan gevolg te word.

“Die DA kan nie toekyk hoe die ANC die reëls opmaak soos wat hulle aangaan nie. Regstappe sal oorweeg word om die geldigheid van hierdie proses te betwis,” meen Murray.

“Ons glo ʼn minderheidsverslag sal van hulp wees in toekomstige litigasie teen die voorgenome wetgewing,” het Anton Alberts, nasionale voorsitter van die VF Plus, gesê.

Alberts, ʼn voormalige senior lid van die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid, was tydens die eerste rondte van die wetsontwerp se samestelling betrokke. “Terwyl ek daar was, was daar al groot probleme wat intussen nog steeds nie uitgeklaar is nie.”

Opposisiepartye se besluit om nie die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg te ondersteun nie, is nie die eerste en enigste besware wat teen hierdie wetsontwerp geopper word nie.

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Sedert die eerste publikasie daarvan, het ʼn wye groep rolspelers deurgaans hulle kommer oor verskeie aspekte en gevolge van die wetsontwerp uitgespreek. Dit sluit onder meer PEN Afrikaans, die Suid-Afrikaanse Uitgewersvereniging (Pasa), die Suid-Afrikaanse Musiekregteorganisasie (Samro) en die Kopiereg-koalisie van Suid-Afrika in.

“Ons is nie teen wysigings van die Wet op Outeursreg gekant nie, maar die voorgestelde wysigingswetsontwerp soos wat tans oorweeg word, is nie konstruktief nie en dit spreek nie daadwerklike probleme en geykte wetgewing aan nie,” het Nicolaas Faasen, uitgewerskonsultant en voorsitter van Pasa se komitee vir regsake, gesê.

“Dit is onaanvaarbaar dat die departement, wat die wetgewing geskryf het, geen behoorlike ekonomiese impakstudie gedoen het nie. Ons het navrae gerig oor waarom dit nie gedoen is nie, maar die departement het telkens ontwykende antwoorde gegee. Die enigste studie wat wel gedoen is, het op die effek van die wetsontwerpe op die staat gefokus,” het Alberts gesê.

“Die gevolg hiervan is dat wetgewing goedgekeur is wat ʼn ernstige gebrek het. Wysigings van ʼn kopieregwet is nie gering nie, dit het enorme implikasies. Dit raak elke industrie waar kopiereg ter sprake kom, onder meer joernalistiek, tydskrifte, rolprente, skrywers en beeldhouwerk.”

‘Fair use’-beginsel wek kommer

Benewens die gebrek aan sosio-ekonomiese navorsing, is die voorgestelde implementering van “fair use” ook ondeurdag en problematies.

“‘Fair use’ is nie ʼn beskrywing van die betrokke wet self nie. Dit is die naam van die term wat in Amerikaanse wetgewing gebruik word. Die probleem hiermee is dat mense dit in ʼn beskrywende sin begin gebruik en dan kan dit op verkeerde wyse as “billike gebruik” geïnterpreteer word.

“Billike gebruik word reeds in die Afrikaanse weergawe van die Wet op Outeursreg gebruik om na ‘fair dealing’ te verwys, wat ook ʼn vertaling van ‘fair use’ kan wees. Daarom word die Engelse term in hierdie geval deurgaans ook in Afrikaans gebruik,” verduidelik André Myburgh, ʼn Suid-Afrikaanse prokureur wat in Switserland woon.

Myburg is ʼn kenner op die gebied van kopiereg. Hy is ook ʼn onafhanklike spesialisregskonsultant wat al amptelik op ʼn paneel van kundiges oor die wetsontwerp gedien het.

“Fair use” is dus ʼn regsbeginsel wat uit die Amerikaanse wetgewing oorgebring word na Suid-Afrika. “Amerika het redelike sekerheid oor die konsep ontwikkel omdat daar al baie hofsake was wat dit omskryf het. Suid-Afrika het nie daardie agtergrond nie.

“Wat moontlik nou kan gebeur is dat Amerikaanse maatskappye weens die onsekerheid van die ‘fair use’-beginsel in Suid-Afrika nie eintlik baie meer projekte hier van stapel gaan stuur of finansier nie. Dit kom neer op ʼn vorm van onteiening sonder vergoeding en kan die media- en verwante bedrywe vernietig,” meen Alberts.

(Foto: iStock)

Volgens hom is die ANC besig om hierdie wetsontwerpe met alle mag en krag deur te voer sonder om die vernietigende effek daarvan in ag te neem.

“Saam met talle ander sinnelose wette, beleid en wanbestuur wat groot skade aan die ekonomie veroorsaak, kan hierdie wetsontwerpe verreikende gevolge inhou.

“Een troos is dat die komitee die VF Plus se waarskuwing ernstig opneem en aanbeveel het dat die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) ʼn ekonomiese impakstudie doen. Die VF Plus hou egter nie asem op dat dit wel sal gebeur nie,” sê Alberts.

“Hierdie onthullings bevraagteken die hele proses en dit regverdig verdere ondersoek, asook ʼn volle openbaring deur die minister van handel en nywerheid en die DTIC,” het Murray bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

domheks ·

In die cANCer land is enige iets moontlik. Alles moet hulle pas, basta met die res.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.