Regering se aksies teen renosterstropery verwelkom

Foto: www.rhinoconservation.org

AfriForum verwelkom die regering se aksies om die kwessie van renosterstropery aan te pak. Volgens Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, openbaar die regering se aksies ’n gesonde houding teenoor die beskerming van Suid-Afrika se natuurerfenis.

“Dit het ’n tydjie geneem, maar mens kan duidelik sien dat die regering begin om aandag aan die kwessie van renosterstropery te skenk. Vanjaar is meer as 618 renosters gestroop wat die rekordhoog van 448 in 2011 verbreek,” sê Kleynhans.

Dit word beweer dat Obed Bapela, adjunk minister in die presidensie vir prestasiemonitering en evaluering, die Noordwes provinsie besoek het om die nasionale krisis wat wildreservate in die gesig staar, te bespreek. Daar is ook genoem dat die wettiging van die handel in renosterhoring ’n oplossing vir die probleem van stropery kan wees.

“Ons stem saam dat die wettiging van die handel in renosterhoring die probleem sou kon oplos, mits dit ordentlik bestuur word. AfriForum sal slegs hul steun aan dié aksie verleen indien die horings, waarmee handel gedryf word, kom uit die huidige voorraad of van renosters wat aan natuurlike oorsake dood is,” sê Kleynhans.

AfriForum het ook die aankondiging verwelkom dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke ’n beloning van R1 miljoen aanbied vir ’n suksesvolle skuldigbevinding van ’n meesterbrein agter ’n stropery-sindikaat. SMS wenke na 32211 of bel 08600 10111.

“Dit is die plig van elke Suid-Afrikaner om te werk om hierdie kwessie op te los. Rapporteer asseblief bedrog en enige aktiwiteite wat verband hou met renosterstropery en verhoed dat misdadigers ons erfenis verwoes,” het Kleynhans afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.