Regeringsvoertuie moet vir e-tol registreer

Die kabinet het ‘n beroep gedoen op alle regeringsinstansies om hul voertuie vir e-tol te registreer.

Collins Chabane, minister in die presidensie, het die besluit om die opdrag uit te reik verdedig, ten spyte daarvan dat die omstrede e-tolprojek tans opgeskort is in afwagting op ‘n uitspraak van die Pretoriase hooggeregshof.

“Wat nou debatteer word is nie of e-tol voortgaan of nie voortgaan nie. Die konstitusionele hof het gesê die regering het ‘n reg om voort te gaan,” het Chabane gesê. “Wat nou bespreek word is die tariewe, hoeveel mense gaan betaal, wie gaan vrygestel word en so meer.”

“Regeringsdepartemente, munisipaliteite en semistaatsinstellings moet almal hul voertuie registreer, aangesien die regering ‘n besluit geneem het dat hulle moet registreer. Sodra hulle registreer en die tariewe is goedgekeur, sal betaling begin,” het Chabane gesê.

Die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa), ‘n burgerregtegroep, het ‘n versoek by die hof ingedien om e-tol te skrap en wag nou op die uitspraak. Die Pretoriase hooggeregshof het uitspraak voorbehou.

Protesaksie teen die tolstelsel het snelweë in Gauteng tot ‘n stilstand gedwing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.