‘Regses’ nou wéér met Mangaung verbind

Die vier mans wat eergister weens ʼn beweerde poging tot terreur in hegtenis geneem is, word nou weer met die Mangaung-konferensie verbind.

Brig. Billy Jones, polisiewoordvoerder, het vanoggend tydens ʼn onderhoud met die TV-nuuskanaal eNews Channel Africa (eNCA) gesê die mans word nou weer met die ANC se Mangaung-konferensie verbind. Hy het aan eNCA gesê dat die polisie na verdere ondersoek kan bevestig dat een van die vermeende regses se aksies op die Mangaung-konferensie gerig was. Die vier vermeende regses, tussen 40 en 50 jaar oud, is Sondag in verskeie provinsies in hegtenis geneem nadat hulle glo verskeie terreurdade beplan het. Daar is aanvanklik gesê dat sewe mans in hegtenis geneem is en dat een van hulle aksies op die Mangaung-konferensie gemik was. Die polisie het egter later gesê dat vier mans in hegtenis geneem is en dat hulle nie met die Mangaung-konferensie verbind word nie. Daar sal na verwagting vandag meer besonderhede aan die lig kom wanneer die mans in die Bloemfontein-landdroshof verskyn

Die nuut gestigte Federale Vryheidsparty (FVP) het gister in ‘n verklaring gesê dat ten minste twee van die verdagtes lede van hul party is. Francois Cloete, die nasionale sekretaris, het gesê die party se president en ‘n lid van hul uitvoerende raad is in Mookgophong (Naboomspruit) in Limpopo in hegtenis geneem. Cloete het die FVP beskryf as ‘n “party wat selfbeskikking vir die Afrikaner bevorder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.