Regstappe oor SAL se uitlating van wit mans vir kadetprogram

Die vakbond Solidariteit het Woensdag met ʼn regsproses begin namens wit manlike kandidate wat weens hul velkleur nie in die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se kadetprogram opgeneem is nie. Die vakbond het die SAL versoek om redes te verskaf hoekom Daniël Hoffman, Dirk Kotze en verskeie ander wit manlike kandidate se aansoeke om deel te wees van die kadetprogram onsuksesvol was.

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, het gesê die vakbond het talle klagtes ontvang van wit mans wat aansoek gedoen het vir die kadetprogram, maar onsuksesvol was. “Verskeie van die kandidate is genooi om psigometriese toetse te ondergaan, maar het hierna geen terugvoering ontvang nie en is eers vroeër die maand per e-pos meegedeel dat hulle aansoeke onsuksesvol was. Ons is nie bewus van een wit manlike kandidate wat na die volgende fase van die keuringsproses gevorder het nie.”

Hoffman (22), wat verlede jaar ’n BSc (IT)-graad in Geografiese Inligtingstelsels cum laude aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het, is in November verlede jaar genooi om psigometriese toetse af te lê. Hoffman het egter hierna niks verder gehoor nie en is in reaksie op sy e-posnavrae meegedeel dat daar geen verdere inligting beskikbaar is nie. Hy is op 8 Junie per e-pos meegedeel dat sy aansoek onsuksesvol was. Hoffman, wat tans besig is met ’n Honneursgraad in Geografie, het gesê hy sal graag wil weet of die keuringsproses regverdig en wettig was. “Selfs al sou hulle net een wit man aanvaar het, sou ek gevoel het dat ek ʼn kans gestaan het om in te kom en dat die agt maande nie alles ʼn mors van tyd was nie.”

Kotze (21), wat tans besig is met ’n Nasionale Diploma in Siviele Ingenieurswese aan die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (CPUT), is ook in November verlede jaar genooi om psigometriese toetse af te lê. Hy het ook geen verdere inligting ontvang nie en is ook op 8 Junie per e-pos meegedeel dat sy aansoek onsuksesvol was.

Solidariteit het die SAL vroeër daarvan beskuldig dat sy opheffing van ʼn verbod op aansoeke van wit manlike kandidate vir die kadetprogram bloot ’n rookskerm vir voortgesette rassediskriminasie deur die lugdiens was. Die vakbond het verlede jaar ʼn groot veldtog teen die lugredery van stapel gestuur nadat wit mans se aansoeke summier verwerp is wanneer hulle hul ras op die aanlyn aansoekvorm ingetik het. Solidariteit het die veldtog nou hervat nadat die lugredery geen wit manlike kandidate in sy kadetprogram opgeneem het nie.

Die publiek kan protesbriewe oor SAL-kwotas deur middel van die webblad, www.stopkwotas.co.za, aan die SAL stuur. ʼn Ander manier om protes aan te teken, is deur die woord “Kwota” na 34388 te SMS. ʼn SMS kos R2 en sal ook by die protesboodskappe getel word. Die veldtog kan ook op Twitter by #StopSAA gevolg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.