Regstellende aksie: Eerste skote klap in arbeidshof

Dirk Hermann

Die eerste skote in waarskynlik Suid-Afrika se grootste regstellendeaksie-regstryd gaan Dinsdag in die arbeidshof in Kaapstad klap. Die vakbond Solidariteit gaan dan ʼn interdik teen die departement van korrektiewe dienste (DKD) se toepassing van sy regstellendeaksie-plan aanvra. Die interdik is om te keer dat die DKD die poste van vyf DKD-werknemers, namens wie Solidariteit met ʼn regsaksie teen die departement besig is, vul.

Hierdie optrede volg nadat die DKD met stappe begin het om een van die applikante in die saak, Christo February, se pos te vul. Dít, ondanks die feit dat February onlangs deur ʼn onderhoudpaneel as die beste kandidaat vir die betrokke pos aangewys is. Die DKD, op grond van sy regstellendeaksie-plan, weier om hom aan te stel.

“Die pos wat die DKD nou wil vul is reeds sedert 2008 vakant en February neem op die oomblik nog in die pos waar. Noudat Solidariteit met die saak teen die departement begin het moet die pos inderhaas deur ʼn swart kandidaat  gevul word. As hulle vier jaar kon wag om die pos te vul, kan hulle nou maar wag tot November wanneer die hoofsaak waarskynlik aangehoor gaan word,” het Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, gesê.

In die hofstukke voer February aan dat die enigste rede waarom hy ongeskik vir die pos is, is omdat hy ʼn bruin man is. Die DKD erken in sy hofstukke dat February nie geskik vir die pos is nie omdat hy nie aan die regstellendeaksie-vereistes van die departement voldoen nie. Die DKD erken voorts dat hy die nasionale demografie in die Wes-Kaap toepas en dat bruin mans oorverteenwoordig is.

Volgens die stukke is die teikens wat op alle vlakke in die DKD bereik moet word 79,3% Afrikane, 9,3% wittes, 2,5% Indiërs en 8,8% bruin persone. Dit beteken dat die getal bruin werknemers, wat sowat 51% van die Wes-Kaap se ekonomies aktiewe bevolking uitmaak, tot 8,8% afgebring moet word om dit in lyn met die nasionale rassedemografie te bring. Volgens Solidariteit kom hierdie beleid op ʼn reuseprogram van sosiale manipulasie neer.

Hermann het gesê die DKD toon geen respek vir die hofproses wat aan die gang is nie. “Hy wil sy omstrede rasseplan ten alle koste so vinnig as moontlik deurdruk en wag nie eens vir regsekerheid nie. Hierdie ywer waarmee hy die nasionale demografie in die Wes-Kaap op ʼn absolute wyse wil afdwing, maak ons net meer vasberade om met die hofsaak voort te gaan. Die DKD besef blykbaar nie dat wat hy doen verkeerd is nie. Die feit dat hy die poste wil vul terwyl die hofsaak aan die gang is, toon dat hy daarmee sal voortgaan as die hof hom nie keer nie.”

Solidariteit het in Mei vanjaar hofstukke namens vyf van sy lede, February ingesluit, in ʼn saak teen die DKD se regstellendeaksie-plan by die arbeidshof in Kaapstad ingedien. Die vakbond verlang nie net ’n beslissing dat sy lede bevorder word nie, maar ook dat die regstellendeaksie-plan van die DKD in sy geheel ongeldig verklaar word.

Volgens Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se arbeidshofafdeling, het die vakbond vroeër in ʼn brief aan die DKD geëis dat die pos, waarin February amper vier jaar lank waargeneem het, nie gevul word nie aangesien Solidariteit en die departement in ʼn hofsaak oor die kwessie gewikkel is. “February het tot Junie 2012 as senior staatsrekenmeester waargeneem. Die DKD het nou weer stappe gedoen om die pos te probeer vul, hoewel February in ʼn vorige proses as die beste kandidaat vir die pos aangewys is maar te wyte aan die departement se regstellendeaksie-plan oor die hoof gesien is.”

Solidariteit het die hof versoek om die DKD te dwing om nie die pos te vul nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.