Regstellende aksie: Solidariteit sê Tshwane minag hofbevel

Die vakbond Solidariteit het die Tshwane-munisipaliteit Woensdag van minagting van die hof beskuldig, nadat die munisipaliteit sonder rede ʼn werksonderhoud met ʼn wit werknemer gekanselleer het ondanks ʼn hofbevel.

Solidariteit sê dié onderhoud met die Solidariteit-lid, Marco de Sampaio, moes ingevolge ʼn bevel van die arbeidshof voor die einde van November gehou word en sou vanoggend plaasvind. Die vakbond sê dit is egter sonder enige rede gekanselleer sonder om dit te herskeduleer. Solidariteit het vroeër vandeesmaand ʼn oorwinning namens De Sampaio teen die Tshwane-munisipaliteit oor die onbillike toepassing van regstellende aksie beklink. Ingevolge die hofbevel, wat ná ʼn skikking tussen die partye gegee is, mag gelyke indiensneming nie as ʼn kriterium vir die vul van die pos waarvoor De Sampaio aansoek gedoen het, gebruik word nie. Die hof het ook beveel dat De Sampaio op die kortlys vir die vakante pos geplaas en vir ʼn onderhoud genooi moet word. Die hof het verder beslis dat die kandidate se ondervinding, kwalifikasies en bevoegdheid die enigste kriteria is wat in ag geneem mag word. Volgens Solidariteit het het die munisipaliteit daarbenewens ingestem dat die pos nie langer vakant gelaat sal word nie en daar dus ʼn aanstelling ná die onderhoude gemaak sal word.

De Sampaio het in September vanjaar vir die vierde keer aansoek gedoen vir die pos van adjunkdirekteur van stelselontwikkeling in die departement van water en sanitasie by die munisipaliteit. Hy neem reeds die afgelope drie jaar in dié pos waar. Hy is egter elke keer, weens die onbillike toepassing van regstellende aksie, nie oorweeg nie en die pos is vakant gelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.