Regstellendeaksiesaak na hoogste hof van appèl

Renate Barnard

Die vakbond Solidariteit het hofstukke by die hoogste hof van appèl in Bloemfontein ingedien in die Renate Barnard-regstellendeaksiesaak.

Solidariteit sê hy wil hiermee die arbeidshof se beslissing dat kapt. Barnard in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bevorder moet word en dat daar teen haar gediskrimineer is op grond van haar velkleur, bekragtig. Die arbeidsappèlhof het verlede maand in die SAPD se guns bevind nadat die party appèl aangeteken het teen die arbeidshof se beslissing. Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se arbeidshofafdeling, sê die arbeidsappèlhof se uitspraak is teenstrydig met die Wet op Gelyke Indiensneming, wat die meganiese gebruik van kwotas verwerp. “Ons het besluit om eers die hoogste hof van appèl te nader voor ons na die konstitusionele hof gaan aangesien daar sekere regskwessies is waaroor ons uitsluitsel wil kry. Ons voel dat die hoogste hof van appèl meer op die regskwessies sal fokus, soos die nienakoming van wetgewing deur die SAPD, as om net bloot op die grondwetlike aspekte van die saak te fokus. Dit sal ook voordelig wees vir die ander regstellendeaksiesake wat ons teen die regering het.”

Groenewald sê Solidariteit is gereed om die saak tot in die konstitusionele hof te beveg. “Indien die arbeidsappèlhof se uitspraak staan, beteken dit dat werkgewers poste vir die doel van regstellende aksie vakant kan los, wat dienslewering negatief sal beïnvloed en dus almal in Suid-Afrika gaan benadeel. In die arbeidsappèlhof se uitspraak is bevind dat dit nie in die hof se bevoegdheid is om te bepaal of die nasionale kommissaris ʼn pos moet vul en of besluite van die kommissaris dienslewering gaan benadeel nie. Ons wil sekerheid hê oor die grondwetlikheid van ’n kwotastelsel wat op die nasionale rassedemografie gebaseer is, die balans tussen regstellende aksie en dienslewering en wat die Grondwet oor die nieaangewese groep se reg op gelykheid en waardigheid beslis,” het Groenewald gesê.

Solidariteit doen intussen steeds ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om kapt. Renate Barnard sterkte toe te wens vir die hofstryd wat voorlê. Persone kan Barnard sterkte toewens deur die woord “Sterkte” na 34388 te SMS of hulle kan http://www.solidariteit.co.za/sterkte-renate-barnard/ besoek om vir haar ’n boodskap te stuur. Die vakbond hoop om deur dié aksie duisende ondersteuningsboodskappe te ontvang wat aan Barnard oorhandig sal word.

Die Barnard-saak is een van 33 regstellendeaksiesake van Solidariteit wat verskillende elemente van die staat en semi-staatsinstellings se regstellendeaksieplanne toets. Tien van die sake is reeds in Solidariteit se guns beslis. Daar lê nog 15 sake voor, waarvan almal teen die SAPD is.

Barnard se regstellendeaksiestryd het reeds in 2005 begin. Sy het twee keer vir dieselfde pos aansoek gedoen en is beide kere as die beste kandidaat aangewys en deur die onderhoudpaneel aanbeveel. Die pos is egter vakant gelaat. Die pos is ’n derde keer geadverteer, maar is geskrap nadat sy weer daarvoor aansoek gedoen het

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.