Regstreekse gesprek: VSA-verkiesing – Hoekom moet SA’ners omgee?

 verkiesing-sosiale-media-01-003.jpgSal pres. Donald Trump van die Republikeinse Party daarin slaag om die Demokrate se presidentskandidaat Joe Biden te klop vir ʼn tweede termyn in die Withuis? En nog belangriker, wat sou dit vir Suid-Afrika beteken afhangende van watter een van die kandidate uiteindelik aan die stuur van sake in die VSA staan.

Dit is die soort vrae wat die kenners Roland Henwood, ʼn politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Pretoria, en Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging, met die gespreksleier Paul Maritz gaan deurtrap in Maroela Media se volgende regstreekse gesprek waarin die VSA se presidentsverkiesing onder die loep kom.

Selfs in jare waarin die uitslae van die VSA-verkiesing betwis is, of daar ʼn verwarrende verskil tussen die kieskollege en populêre stemme was soos in die 2016-verkiesing, het Amerikaners gewoonlik ʼn redelike goeie aanduiding gehad van wie die verkiesing gewen het teen die oggend na afloop van stemdag, maar kenners meen 2020 se verkiesing kan dalk heel anders verloop.

Benewens die feit dat dit lyk of die VSA nou polities meer verdeeld as ooit te vore is, is daar ook reeds vrae en kommer oor die posstemme wat dié land se kiesers in staat stel om hulle stemme vroeër deur die VSA se posstelsel uit te bring. Daar word reeds in die VSA verwys na ʼn verkiesingsweek met ʼn sperdatum waarteen kiesers se stemme finaal op Dinsdag 3 November ingedien moet word, as net die enkele tradisionele stemdag soos in die verlede.

Terwyl miljoene stemme al op dié wyse ingedien is, is daar nou ook al reeds berigte van kiesers wat glo hul stem sou wou verander nadat gerugte oor Biden se seun, Hunter, se omstrede onderhandelinge met Oekraïne en China aan die lig gekom het. Die New York Post het berig oor e-posse wat glo aandui dat Hunter in 2015 en 2017 miljoene dollar van energiemaatskappye in die twee lande ontvang het om sy pa se ontmoeting met hulle te fasiliteer.

Nog omstredenheid oor die posstem is dat Trump in ʼn twiet gesê het die soort stemme is meer oopgestel vir bedrog, hoewel hy al self op die manier gestem het.

Die meeste verkiesingskenners meen egter bedrog is nie die grootste kommer nie, maar eerder die drastiese toename in die stemme wat op dié manier vanjaar uitgebring sal word.

Na verwagting sal die vroeë stemme wat met die posstelsel vanjaar ingedien word, meer as dubbel die hoeveelheid wees wat in 2016 ingestuur is, en met verkiesingskantore en stemlokale wat moontlik onderbeman mag wees as gevolg van die Covid-19-pandemie, is dit waarskynlik dat Amerikaners nie vir seker sal weet of Trump of Biden die verkiesing gewen het tot ʼn paar dae ná stemdag nie.

Terwyl al die belangrikste nuusnetwerke soos gebruiklik regstreeks die stemtellery sal volg, moet mense nie verbaas wees as hulle teen 4 November nog nie met klinkklare sekerheid kan sê wie die presidentseed op 20 Januarie 2021 gaan aflê nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.