Regter bedank oor transformasie van die regbank

Adv. Izak Smuts SC Foto: Brenton Geach, IOL

Izak Smuts, ‘n senior advokaat, het Vrydag uit die Regterlike Dienskommissie (RDK) bedank ná twis oor transformasie van die regbank.

Smuts, wat in 2009 aangestel is om die advokateprofessie te verteenwoordig, is krities oor die RDK se beskouing om, ter wille van transformasie, nie wit mans as regters aan te stel nie. In ‘n dokument, “Transformasie en die Regterlike Dienskommissie”, skryf Smuts dat daar ‘n “persepsie is dat die RDK teen die aanstelling van wit manlike kandidate is, afgesien van buitengewone omstandighede”.

“Ek wil nie aanstoot gee aan enigiemand wat ek nie by dié lys insluit nie, anders sou die lys te lank wees, maar as voorbeelde van intellektuele forensiese intelligensie lig ek die name uit van Azhar Cachalia, Geoff Budlender, Willem van der Linde, Torquil Paterson, Jeremy Gauntlett en onlangs ook Clive Plasket. Tydens my dienstermyn in die kommissie is hulle almal deur die kommissie verwerp vir regterlike bevordering of aanstelling,” het Smuts gesê.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng, voorsitter van die RDK, het dit vroeër in die week duidelik gestel dat verdienstelikheid wel nodig is vir aanstellings op die regbank, maar dat trans­forma­sie van die regbank belangriker is.

Smuts doen ‘n beroep op sy kollegas in die advokateprofessie om ‘n meer “oorredende kollega” te nomineer om in die RDK te dien. Smuts sê hy het, in die loop van die RDK-onderhoude die afgelope week, besef dat sy idee van grondwetlike waardes, en die plig van die kommissie en selfs basiese regte soos menswaardigheid en vryheid van spraak, lynreg bots met die beskouing van die RDK. “Dit is so ver verwyderd van die beskouing van die meerderheid van die kommissie dat dit nie meer vir my moontlik is om ‘n doeltreffende rol in die RDK te speel nie.”

Dumisa Ntsebeza, woordvoerder van die RDK, het na Vrydag se voorval gesê hy kan nie direk kommentaar lewer oor Smuts se aantygings nie, aangesien die kommissie nie sy mediaverklaring gesien het nie. Ntsebeza het bevestig dat Smuts hulle in kennis gestel het dat hy Vrydagoggend wil bedank. “Hy het gesê dit sal sy laaste dag wees en dat hy vir ooglopende redes bedank,” het Ntsebeza gesê. Hy sê die RDK beskou Smuts se bedanking as betreurenswaarding.

Die RDK het Vrydag onderhoude met vyf kandidate gevoer vir een vakante pos op die regbank in die Oos-Kaap. Die kommissie het later aangekondig dat hy nie enigiemand gaan aanbeveel in die pos nie, en wou nie volle redes hiervoor verskaf nie. Ntsebeza het dit egter laat deurskemer dat die gehalte van kandidate nie dieselfde kaliber is as diegene met wie hulle vroeër die week vir ander hooggeregshofposte onderhoude gevoer het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.