Regter se weduwee het glo gejok oor sy dood

Thandi Maqubela Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Thandi Maqubela Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

Thandi Maqubela het die indruk geskep dat haar man nog leef, terwyl sy geweet het hy is reeds dood, het regter John Murphy Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê.

Tydens sy lang vonnis het hy gesê dit is een van die regsgeldige afleidings wat gemaak kan word uit bewyse en vals getuienis oor haar bewegings. Murphy sê die uiteensetting van haar aktiwiteit op 5 Junie 2009, wat in polisieverklarings en getuienis gegee is, stem nie ooreen met die data wat ʼn kenner van haar selfoonseine af bepaal het nie. “Haar twee weergawes is so teenstrydig dat dit as onwaar verwerp kan word.”

Sy en haar medebeskuldigde, Vela Mabena, het onskuldig gepleit op aanklag dat hulle haar man, waarnemende regter Patrick Maqubela, op 5 Junie 2009 in sy huis in Seepunt in Kaapstad met kleefplastiek versmoor het. Sy het ook onskuldig gepleit op aanklag van bedrog en vervalsing wat verband hou met ʼn dokument wat sy beweer is haar man se testament.

Murphy het die lys afleidings voorgehou wat gemaak kan word uit Maqubela se “blatante oneerlikheid”. Hy sê sy was glad nie van plan om daardie dag saam met haar man na Qumbu in die Oos-Kaap te vlieg nie, maar wou dié indruk skep aan die polisie en ander mense. “Sy het teen die middag omstreeks 12:00 geweet dat haar man óf dood óf bewusteloos in die woonstel is,” het Murphy gesê. Hy sê die afleiding kan gemaak word dat sy saam met sy lyk in die woonstel was, sy het die feit dat hy dood is verbloem, en stappe gedoen om die indruk te skep dat hy nog steeds leef.

Murphy het ook gesê dit is moontlik dat Maqubela haar man se lyk in hul woonstel met ʼn laken bedek het.

Murphy het uit die selfoonrekords bevind dat sy tussen 01:00 en 06:00, die geraamde tyd toe die waarnemende regter gesterf het, in die huis was. “Sy was daar toe hy oorlede is. Sy het óf self die liggaam bedek, óf sy weet wie het dit gedoen.”

Die hof het gehoor dat die eerste drie mense wat die Sondag op die regter se liggaam afgekom het, die sekuriteitswag en twee van die regter se vriende was, wat saam by die woonstel opgedaag het. Die drie se waarnemings stem nie heeltemal ooreen nie, maar dit is tog “beslissend”. “Ons is oortuig dat die getuienis die bevinding ondersteun dat die liggaam netjies bedek was, met ʼn kussing bo-op die oorledene se gesig.”

Murphy het na Maqubela se opleiding as ʼn verpleegster verwys. “Dit is moontlik dat sy hom bedek het, die vensters toegemaak en die verwarmer aangeskakel het om ontbinding te bespoedig, om dit sodoende onmoontlik te maak om die tyd van sy dood te bepaal. Sy het bewustelik probeer om die oorsaak van afsterwe weg te steek.”

Die hof het vroeër die getuienis van ʼn sekuriteitswag verwerp wat aangevoer het dat hy die regter die oggend van sy dood gesien het. Murphy sê die man het die tye verander wat hy hom [Patrick Maqubela] in die kelder van die gebou gesien het. Murphy sê dit is menslik om te vergeet en mens moet versigtig wees om die getuienis van een enkele persoon te aanvaar.

Die sekuriteitswag het Mabena glo die oggend by die woonstel ingelaat, omdat hy glo ʼn boek by Thandi moes oplaai. Die wag het glo getuig dat hy met die waarnemende regter gepraat het voordat hy Mabena ingelaat het. Hy het glo gesê “Stuur hom”. Die wag het egter in sy verklaring aan die polisie gesê “Laat hom in. Dit is my vriend.”

Murphy sê die wag se beskrywing van Mabena en sy motors het verander ná hy deur die polisie ondervra is. “Die feit dat hy homself aan druk van die polisie onderwerp het, beteken dat dit moontlik is dat hy ook aangesê is wanneer hy Mabena gesien het.” Die hof het sy getuienis verwerp en gesê die laaste kontak wat iemand met die regter gehad het, was ʼn gesprek met een van sy vriende die Donderdagaand voor sy dood. “Daar is geen bewyse dat enigiemand, buiten Maqubela, met die slagoffer gepraat of hom gesien het nie.”

Toegangskaarte vir die woonstelblok kan ook nie gebruik word nie, aangesien deure soms oopstaan. Kringtelevisiebeeldmateriaal by die uitgange het ook nie gehelp nie. “Soos die noodlot dit wil hê, het die kringtelevisiekameras van daardie Donderdag tot die Maandag nie behoorlik gewerk nie. Daar is dus geen beeldmateriaal beskikbaar nie,” het Murphy gesê.

Murphy het Maandag gesê sy uitspraak is meer as 220 bladsye lank. Daar is ingewikkelde kwessies oor feite en die reg en dit sal tussen twee en drie dae lank neem om voor te hou.

Hy het die media versoek om nie voorlopige gevolge te maak nie, want die “uitspraak is ingewikkeld en daar is baie feitelike bevindings wat gemaak moet word”.

Lees ook:
Geld dalk motief vir regter se dood
Uitstel gevra oor beweerde testament-vervalsing

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.