Regulasies oor skoolbeheerliggame dop toets

(Argieffoto: Unsplash)

Solidariteit is nie net gekant teen die voorgestelde wysigings aan beheerliggaamregulasies vir openbare skole in Gauteng nie, maar voer ook aan dit is ongrondwetlik.

Die organisasie het verskeie dringende vrae aan Matome Chiloane, die Gautengse LUR vir onderwys, gerig waarin Solidariteit sy bedenkinge oor die voorgestelde veranderings te kenne gee.

Volgens Johnell Prinsloo, onderwysnavorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is daar reeds regsadvies oor die wysigings ingewin. Die wysigings het onder meer betrekking op die samestelling van beheerliggame van skole vir leerders met spesiale behoeftes. Verder fokus dit ook op kwessies soos kworumvoorskrifte en waarnemers by verkiesings.

Die voorgestelde veranderings dui op voortdurende pogings om gemeenskappe en ouers van hul inspraak by skole te ontneem, sê Prinsloo.

Verder is Solidariteit bekommerd oor die leemtes en onduidelikhede rakende akkreditering van eksterne waarnemers in beheerliggame, asook oor die departement se “oordrewe” betrokkenheid by elektroniese verkiesings.

“Dit is nie eens nodig om tussen die lyne te lees om te sien dat die regulasies daarna strewe om die sentralisering van mag in ons skolebestuur te bevorder nie. Verskeie van hierdie veranderings wyk verder van demokratiese prosesse af en poog om meer mag in die hande van regeringsamptenare te plaas,” sê Prinsloo.

“Ongelukkig is daar min rede om te glo dat hulle gesonde oordeel aan die dag sal lê of besluite sal neem wat gemeenskappe se belange op die hart dra.”

Die voorgestelde veranderings is in November in die provinsiale Staatskoerant bekend gemaak. Dit gebeur ook in ʼn tyd wat die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) spesifiek die besluitnemingsmagte van skoolbeheerliggame teiken, sê Prinsloo.

Dié wetsontwerp word tans deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) verwerk en Solidariteit sal sy kommentaar ook hieroor indien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

domheks ·

Alles waaraan cANCer raak – verander in bollie! Die bewyse is daar: Eskom, Transnet, Telkom , Poskantoor, SAA en ALLE Munisipaliteite, so kan ek aangaan …

skurweberg ·

Waarom al die bohaai. Hierdie is net die voortekens van die TOTALE AANSLAG wat ons en ons kinders in die gesig staar. Ons moet die JEUG en ONSSELF doelbewus begin WEERBAAR maak teen hierdie tendens.

Johann ·

Die blatantheid waarmee die ANC wil beheer hê oor als.en almal is ongelooflik. Skaamtelose anargiste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.